Skip to main content
Maties Parasport-atleet presteer in Praag

Maties Parasport-atleet presteer in Praag

Maties Parasport
05 Julie 2016

Lede van die Maties Parasport-klub was die afgelope week by verskeie plaaslike en internasionale kompetisies betrokke.

Brandon Beack, wat slegs 18 maande gelede by sport vir persone met gestremdhede betrokke geraak het, het as individu by die internasionale federasie vir sportlui in rolstoele of wat ledemate verloor het (International Wheelchair & Amputee Sport (IWAS)) se o.23 kampioenskap in Praag in die Tsjeggiese Republiek deelgeneem. Hy het goud gewen in gewigstoot (klas F53) met 'n afstand van 5,92m. Die wenners is bepaal volgens 'n puntestelsel, omdat verskillende klasse saam deelgeneem het. Hy het ook aan die 100m (T52) deelgeneem en vierde geëindig.

Brandon is onlangs by die Mail & Guardian se lys van 200 Jong Suid-Afrikaners vir 2016 ingesluit. Hy was 'n talentvolle gimnas, maar is verlam ná hy in 2012 sy nek beseer het in 'n slegte landing.

Wentzel Barnard, bestuurder van die Maties Parasport-klub, het Beack se prestasies as "ongelooflik" beskryf, gegewe die kort tyd wat hy aan die sport deelneem en het gesê dit was 'n kombinasie van talent en harde werk deur die atleet en waardevolle insette deur sy afrigter, Karin le Roux.

Le Roux is tans in Europa saam met 'n groep veldatlete ter voorbereiding van moontlike deelname aan die Paralimpiese Spele in Rio. Die ervare Paralimpiese atleet Zanele Situ (F54) het by die Poolse Ope-kampioenskap 'n persoonlike beste afstand in die diskus behaal. Sy gaan ook in Duitsland deelneem.

'n Groep baanatlete van die Maties Parasport-klub het Dinsdag na Europa vertrek om aan verskeie kompetisies deel te neem, onder meer ook in Duitsland.

Op eie bodem het Herculaas Lamprecht, wat in 2010 met leukemie gediagnoseer is en in 2011 'n beenmurgoorplanting ondergaan het, deelgeneem aan die SA "Laser-Run" – 'n sportitem wat bestaan uit hardloop en skiet. By die kompetisie wat in Bela-Bela plaasgevind het, het Herculaas tweede gekom in die afdeling vir junior mans. Hierdie prestasie het vir hom 'n plek in die SA Presidentspan besorg wat in September vanjaar in Lissabon, Portugal, sal deelneem.