
Maties Netbal gaan van krag tot krag
Maties Netbal het 2015 op 'n hoë noot afgesluit nadat hulle die finaal van die Varsity Sports-netbalkompetisie op hul tuisveld aangebied het. Met die diepte en ervaring van die huidige spelers hoop die span om van krag tot krag te gaan.
Hul tweede plek in die Varsity Sports-kompetisie was 'n groot verbetering op hul vierde plek in die USSA-kompetisie vroeër dieselfde jaar en hul vierde plek in die Varsity Sports-kompetisie in 2014.
Hul deurlopende verbetering word toegeskryf aan onder meer verbeterde fiksheidvlakke en uitstekende afrigting en ondersteuning.
Maties Netbal is een van nege Hoëprestasie-sportkodes by Universiteit Stellenbosch.
Onder die leiding van hoofafrigter Christine Behan het die span sedert 2013 uitmuntende vordering getoon. Dr Sherylle Calder van EyeGym is sedert 2014 by Maties Netbal betrokke en die voormalige Proteas-afrigter Elize Kotzé het in 2016 by die afrigtingspan aangesluit.
Sy sal as afrigtingkonsultant optree en het reeds 'n aantal afrigtingsessies in Stellenbosch aangebied.
"Ons is bly dat iemand van Elize se statuur besluit het om by Maties Netbal aan te sluit en glo die spelers sal baie baat by haar ondervinding en leiding," sê Karen Swart, bestuurder van Maties Netbal.
"Ons wil graag op ons uitslae van verlede jaar verbeter," het sy bygevoeg.
Nog 'n moontlike rede vir Maties Netbal se verbetering is die huidige spelers se vlak van ondervinding.
Dit spreek duidelik uit die aantal spelers wat vir nasionale en streekspanne gekies word.
Maties-kaptein Juline Rossouw is ingesluit in die Universiteitesport Suid-Afrika (USSA)-groep vir die Wêrelduniversiteite-netbalkampioenskap (WUNK) wat in Julie in Miami gehou word.
Die finale span sal nader aan die tyd aangekondig word.
"Ek is baie dankbaar vir hierdie geleentheid, maar besef dat die harde werk nou begin. Ek is opgewonde oor die uitdaging en bereid om die inspanning en die opoffering in te sit wat nodig is om suksesvol te wees," sê Juline.
Ses Maties is gekies om die SA o.21-oefenkamp in Pretoria by te woon.
Sasha-Lee Petersen, Nichole Taljaard, Stephanie Brandt, Charmaine Baard, Jo Prins en Anandie Burger is ingesluit in die SA o.21-groep ter voorbereiding van die o.21 Wêreldbeker-kwalifiseringstoernooi later vanjaar.
In onderhoude wat op Netbal SA se Facebook-blad geplaas is, het Charmaine (doel) die o.21-oefenkamp as 'n "ongelooflike leerervaring" beskryf terwyl Nichole gesê het dit was 'n wonderlike geleentheid om "saam met uitstekende spelers te oefen".
Maties Netbal-spelers maak ook die grootste deel uit van die 2016 Southern Stings-groep wat aan die nasionale Brutal Fruit-netballiga sal deelneem. Anandie Burger, Carla Werth, Charmaine Baard, Jo Prins, Juline Rossouw, Megan Gossmann, Nichole Taljaard, Remina Stephan, Sasha-Lee Petersen, Stephanie Brandt, Cindi Pretorius en Abeline Olivier is by die groep ingesluit.