
Maties Netbal dring deur tot Varsity Netbal-halfeindronde
Die Maties-netbalspan het Donderdag (29 September) 'n historiese 54-38-oorwinning oor Kovsies behaal om na die Varsity Netbal-toernooi se halfeindronde deur te dring.
Dit was die eerste keer sedert 2005 dat Maties vir Kovsies gewen het en hulle het in die proses ook die tweemalige kampioene uitgeskakel. Al die druk was op Kovsies nadat Madibaz vroeër die dag 'n verrassingsoorwinning oor Pukke behaal het.
Dit het beteken dat Kovsies moes wen om na die uitspeelrondes deur te dring, of minstens twee bonuspunte moes aanteken as hulle sou verloor.
Maties het in die eerste kwart net-net voorgeloop en die telling het naby gebly, met 'n verskil van net drie doele teen halftyd. Die telling was toe 24-21. Maties het egter in die derde kwart hul voorspring begin vergroot en het met 39-30 voorgeloop toe die laaste kwart begin het. Hulle het in die laaste 15 minute van die wedstryd 15 doele teen Kovsies se agt aangeteken en uiteindelik 54-38 gewen.
Maties speel nou weer teen Pukke, teen wie hulle 41-32 verloor het in die eerste wedstryd van die seisoen.
Dit beloof om 'n opwindende wedstryd te wees en vind op 10 Oktober om 19:00 in die Coetzenburg-sentrum plaas. Die ander semi-finaal sal deur Tuks en NMMU-Madibaz beslis word.