Skip to main content
Maties on the Move

Maties on the Move

Division for Student Access / Afdeling Studentetoegang
28 Augustus 2018

Naas die Wes-Kaap, is Gauteng die Universiteit Stellenbosch (US) se grootste toevoerprovinsie. Tog daag slegs 30% van Gautengse studente wat voorwaardelik toegelaat is uiteindelik op om te registreer. Daarom het die Afdeling Studentetoegang en fakulteite van die US saamgespan om twee geleenthede – 'n universiteitsuitstalling en 'n inligtingsaand – in Randburg, Johannesburg, aan te bied. Die mikpunt was om die registrasiesyfer te probeer verhoog en ook verhoudings met skole en voornemende Maties te bou en te versterk.

Die uitstalling, wat in die namiddag van 21 Augustus 2018 aangebied is, was afgestem op graad 9's sowel as graad 11's omdat hierdie leerders hulle in 'n deurslaggewende stadium van hulle skoolloopbaan bevind. Leerders is bewus gemaak van die moontlikhede op die onderskeie vakgebiede en is ook bygestaan om ingeligte besluite oor vakkeuses te neem. Boonop kon graad 11's self ervaar wat hulle alles by die Universiteit Stellenbosch sou kon verwag indien hulle dit as hulle akademiese tuiste vir 2020 kies. Personeellede het onder meer die verskillende beskikbare finansieringsgeleenthede aan leerders verduidelik en ook benadruk hoe belangrik hulle finale graad 11-uitslae is.

Die inligtingsaand was op sy beurt afgestem op graad 12's wat reeds voorwaardelik tot die US toegelaat is (en binne ryafstand van Randburg woon). Sprekers het onder meer gepraat oor waarom Maties 'n goeie keuse is (Rektor en Visekanselier prof Wim de Villiers), die aansoek- en registrasieproses (Adjunk Direkteur: Studentewerwing en Loopbaanadvies dr Gillian Arendse) en die Matie-ervaring (nagraadse student en huidige Studenteraadslid me Sibongile Qupe). Die leerders het ook geleentheid ontvang om die US-kenners oor enige moontlike probleme of kwessies in verband met studie op Stellenbosch uit te vra.

Die unieke sprekerspaneel het vir 'n goed gebalanseerde program gesorg. Al die sprekers was US-alumni, met me Qupe, wat haar BRek-graad in 2017 verwerf het, die jongste alumna in die groep. Prof De Villiers het in sy toespraak gesê: “Om aan die Universiteit Stellenbosch te studeer gaan oor soveel meer as om net jou graad te verwerf. Die hele ervaring is uniek." Me Qupe het dít beaam: “Soos in enige ander tydperk van my lewe, het ek in my drie en 'n halwe jaar by die Universiteit al heelwat uitdagings en mislukkings ervaar, maar daar was ook ewe veel lesse en verhale om te vertel. Die US daag my uit op maniere wat ek nie gedink het moontlik is nie. Ek het die afgelope paar jaar baie gehuil, maar nie altyd omdat ek hartseer was nie – ook trane van vreugde, pure geluk én oorwinning. Ek het gehuil toe ek my eerste toets druip; ek het gehuil toe ek nie blyplek kon kry nie; ek het gehuil toe ek tot lid van die Huiskomitee en die Studenteraad verkies is. Ek het my oë uitgehuil toe ek my eerste graad ontvang met my familie in die gehoor. Al hierdie mylpale het my gevorm, en sal in die toekoms 'n rol speel – alles danksy die Universiteit Stellenbosch."

Die Afdeling Studentetoegang bedank graag al sy vennote oor die hele Universiteit wat hierdie Gautengse geleenthede 'n sukses help maak het. Ons sien daarna uit om in 2019 die vrugte daarvan te pluk.​