
Matie-fietsryer derde in Kaapstad-fietstoer
Matie-fietsryer Vera Adrian (22), die Afrika- en Namibiese kampioen in the padwedren en tydtoets, het voortgebou op haar goeie prestasies in Februarie deur Sondag derde te kom in die Kaapstad-fietstoer.
Adrian het net-net ná Suid-Afrika se An-Li Kachelhoffer en Lynette Burger oor die wenstreep gejaag. Al drie fietsryers het die wedren oor 109 km in 'n tyd van 2:51:26 voltooi.
"Dit voel ongelooflik om op die podium van só groot wedren te staan," het Adrian Dinsdag gesê.
Sy hoop nou om haar land by die 2016 Olimpiese Spele in Brasilië te verteenwoordig.
"Namibië het 'n plek in die padwedren by die Olimpiese Spele. Dit hang nou van die Namibiese Fietsryfederasie af wie hulle besluit om te stuur."
Adrian, wat van Windhoek af kom vir Time Freight ry, is in die finale jaar van 'n BCom-graad in bestuursrekeningkunde en is ook 'n lid van die Maties-fietsryklub.
Sy het in Februarie twee goue medaljes by die Afrika Kontinentale Kampioenskap in Marokko gewen, asook twee goue medaljes by Namibië se nasionale kampioenskap.
Ander Maties het ook goed presteer.
Stuart McCreadie, Paralimpiese handfietsryer en 'n lid van die Maties Parasport-klub, het sy kategorie gewen in 'n tyd van 03:29:16.
Ter voorbereiding vir die Wêrelduniversiteite-fietsrykampioenskap (WUFK) het die Matie-fietsryers Hans-Werner Heuer en Max Sullivan ook aan die Kaapstad-fietstoer deelgeneem.
Volgens die amptelike uitslae het Heuer 36ste (uit 22471 mansfietsryers) klaargemaak in 'n tyd van 02:39:01, terwyl Sullivan 37ste was in 'n tyd van 02:39:02.
"Die resiesomstandighede was baie goed en die tye kon vinniger gewees het as dit nie vir spantaktiek was nie. Dit was uitstekende voorbereiding (vir die WUFK) aangesien die roete ongeveer dieselfde hoeveelheid opdraande het," het Sullivan gesê.
Hans, Sullivan en CP van Wyk sal Universiteitesport Suid-Afrika (USSA) van 16-20 Maart in die Filippyne verteenwoordig.
Studente van minstens 17 lande, insluitend deelnemers uit Europa en die VSA, sal by dié kampioenskap, wat vir die eerste keer buite Europa gehou word, meeding. Vier hoofwedrenne – 'n 122 km-padwedren, 'n 80 km-kriterium, 'n 35 km-veldwedren en 'n 1,2 km veldwedren-elimineerder – sal aangebied word.
Heuer is 'n finalejaarstudent in ingenieurswese, Van Wyk is besig met 'n BCom-graad en Sullivan is 'n BCom-honneursstudent in Publieke Administrasie.