
Matie app 'n eerste vir Suid-Afrikaanse studentekoerante
Die Matie, studentekoerant van die Universiteit Stellenbosch, spog met ʼn splinternuwe nuus-app (oftewel toep) wat deur 24.com, Suid-Afrika se voorste digitale uitgewer, ontwikkel is. Dit is sovêr bekend die eerste Suid-Afrikaanse studentekoerant wat met so ʼn app spog.
Eugenie Gregan, hoofredakteur van Die Matie, verduidelik dat die idee ontstaan het om tesame met die tweeweeklikse gedrukte koerant, vir studente ʼn maklike, vinnige en goedkoop opsie te bied om nuus te kry.
“Studente is heeltyd op hulle fone, so dit het sin gemaak om ʼn platform vir slimfone te skep waar hulle al die nuus op een plek kan kry – en seker kan wees dit is akkuraat.
“Die app bevat ook nie net kampusnuus nie, maar ook nasionale en internasionale nuusflitse, kort videos met nuusmakers, kampus-aanhalings en belangrike kampuskennisgewings,” sê Gregan.
Die app is op NetNuus, ʼn Afrikaanse nuus-app wat verlede jaar deur 24.com bekendgestel is, gebaseer.
“Dit was baie opwindend om ons eie tegnologie te gebruik en ʼn innoverende oplossing te bied aan veral die jonger mark wat meer tyd op hul digitale toestelle spandeer,” sê MJ Lourens, redakteur van NetNuus.
Die app bied lesers die geleentheid om hul opinie oor kampuskwessies te gee, hetsy deur reaksie of kommentaar. Die eenvoudige “scroll”-funksie maak die gebruikerservaring baie gerieflik.
Lourens sê Die Matie se redaksionele span is werklik die pioniers wat die sukses van hierdie ongelooflike projek gaan bepaal. “Die app bied die redaksie die geleentheid om te eksperimenteer met ʼn ander formaat wat inhoud betref. Gevolglik behoort die uitgewersbedryf dalk ʼn paar lesse by dié span te leer – veral in terme van inhoud wat dié ouderdomsmark lees,” sê hy.