
Matie-alumnus erken as beste landelike verpleegkundige
"Hierdie toekenning behoort nie aan my nie; dit behoort aan elke verpleegkundige wat in ʼn mobiele gesondheidskliniek werk, wat sy of haar tyd en moeite wy aan die gesondheid van mense in verafgeleë gebiede." Dit is presies dié soort houding wat daartoe gelei het dat sr Charlotte Stemmet as Landelike Verpleegkundige van die Jaar 2016 aangewys is tydens die Landelike Gesondheidskongres wat vanaf 6 tot 9 Augustus 2016 in Grahamstad gehou is.
Stemmet is ʼn alumnus van die Afdeling Verpleegkunde van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van Stellenbosch Universiteit (US). Sy het haar loopbaan as professionele verpleegkundige meer as 15 jaar gelede in primêre gesondheidsorg by die destydse klein kliniek in Nduli net buite Ceres begin.
Sy werk tans in distriksgesondheidsdienste van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, waar sy ʼn mobiele kliniekdiens lewer aan die Bossieveld-plaasgemeenskap in Worcester. Sy was sedertdien ook betrokke by die stigting van 'n gesondheidskomitee, die vestiging van ʼn sopkombuis, volhoubare groentetuin en halfweghuis vir MIV-pasiënte en die koördinering van gemeenskapsorgwerkers.
Die Landelike Verpleegkundige van die Jaar-toekenning word deur die Vereniging vir Landelike Verpleging van Suid-Afrika (Rural Nursing South Africa, [RuNurSA]) gemaak aan ʼn landelike verpleegkundige wat in landelike gesondheidsorg werk, en gedurende die vorige jaar ʼn beduidende bydrae tot landelike gesondheid gelewer het. "Die aard van die bydrae word nie streng omskryf nie, omdat landelike verpleegkundiges uiteenlopende werksverpligtinge en verantwoordelikhede het," het dr Guin Lourens, die Voorsitter van RuNurSa en die Bestuurder van die Kliniese Landelike Opleidingsplatform van die FGGW, gesê.
Stemmet en haar kollega, Stafverpleegkundige Christine Marcus, bestuur ʼn mobiele gesondheidsorgkliniek in die plaasgemeenskappe van die Breedevallei in die Kaapse Wynland. Die pasiënte is ver van dorpe af en is afhanklik van mobiele klinieke vir primêre gesondheidsorgdienste. Of dit nou reën- of mooiweer is, deur wind, sneeu of hael, Stemmet en Marcus pak hul mobiele kliniek en 'n fles koffie en vertrek na die plaasgemeenskappe.
Op die meeste plekke word hulle hartlik gegroet en baie plaasboere het 'n skuur of saal beskikbaar gestel waarbinne die verpleegkundiges pasiënte kan sien. Maar soms sien hulle pasiënte in die mobiele kliniek, waar hulle – in 'n ruimte bietjie kleiner as 'n karavaan – 'n omvattende primêregesondheidsorgdiens bied wat insluit moeder- en babasorg; MIV- en TB-berading, -toetse en -behandeling; kindergesondheid; die bestuur van chroniese siektes; en vrouegesondheid.
Stemmet het onlangs haar Meestersgraad in Verpleegkunde ontvang vir die anekdotiese navorsing wat sy gedoen het oor die waarnemings en ervarings van verpleegkundiges oor werk by mobiele klinieke. Die navorsingsdokument is aanlyn beskikbaar by http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/98767.
"Ek hoop dit sal help om die benarde toestande te verbeter waaraan verpleegkundiges wat in mobiele klinieke werk blootgestel is. Hierdie verpleegkundiges se enigste wens is om hulle rol as versorgers van mense te vervul en om dienste te lewer aan diegene wat andersins nie aanvaarbare billike toegang tot gesondheidsdienste het nie," het Stemmet gesê.
Stemmet het besluit om haar navorsing toe te spits daarop om data van verpleegkundiges te bekom oor diensverskaffing met mobiele klinieke, sodat dienslewering verbeter kan word. Haar navorsing het getoon landelike verpleegkundiges moet in die uitvoering van hulle daaglikse werkstake groot uitdagings aanpak, terwyl hulle probeer om gesondheidsorgdienste te lewer aan mense wat andersins geen dienste sou ontvang nie. Haar insette het ʼn invloed gehad op verbeterings wat gedoen is aan die ontwerp van mobiele klinieke.