Skip to main content
Lewer kommentaar op die Konsepbeleid vir Visuele Regstelling

Lewer kommentaar op die Konsepbeleid vir Visuele Regstelling

Corporate Communication
06 Augustus 2019

Belanghebbers word uitgenooi om kommentaar te lewer op die Universiteit Stellenbosch se Konsepbeleid vir Visuele Regstelling voordat ʼn finale weergawe die interne goedkeuringsproses vir institusionele beleide sal volg.

Die interne kampus-konsultasie met fakulteitsrade het reed begin. Die openbare-deelnameproses loop van 2 Augustus tot 2 September 2019. 

Die oogmerk van die Beleid oor Visuele Regstelling is om besondere uitdrukking aan Visie 2040 te gee, met die fokus daarop om die US te posisioneer as ʼn universiteit wat sy visuele begronding uitdruk as deel van ʼn voortgesette regstellingsproses aan die hand van die plaaslike en die globale kontekste.

Die konsepbeleid het die volgende primêre uitkomste:

  • Om die visuele regstelling- en benamings-/herbenamingsproses onder een beleid byeen te bring,
  • Om visuele regstelling meer omvattend te maak en te bevorder,
  • Om kritiese dialoog (insluitend onderrig en leer en navorsing) by die Universiteit te stimuleer,
  • Om US-omgewings te lei rakende die prosesse van visuele regstelling en benaming/herbenaming.

Verskeie jare gelede het die US die proses van visuele regstelling geïmplementeer wat gevorm is deur die US Transformasieplan en geïmplementeer is deur die Afdeling Sosiale Impak en Transformasie. Heelwat vordering is gemaak om studente- en personeelvriendelike leef- en werkruimtes te skep wat voldoen in die behoeftes van ʼn diverse groep studente, personeel en ander belanghebbers.

“Terselfdertyd het die Universiteit ʼn daadwerklike poging aangewend om ruimtes vir dialoog oor openbare simbole en historiese figure te skep. Daarby is spesifieke komitees op die been gebring om universiteitswye diskoers te fasiliteer oor en benaderings tot openbare simbole en die benaming van gebou," verduidelik dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie.

As deel van die visuele regstellingsprojek het verskeie geboue al nuwe name gekry of is hulle hernoem, opdrag is gegee vir kunsinstallasies en ʼn permanente verklaring is op die muur by die US Biblioteek aangebring om ons te herinner waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is.

Verwelkomingsboodskappe is in 15 tale, insluitende gebaretaal en San, op banke in openbare ruimtes op kampus uitgekerf. ʼn Kaart van Die Vlakte is aangebring by die ingang van die Lettere en Sosiale Wetenskappe-gebou, wat op die grond gebou is van waar gesinne in die sestigerjare onder die Groepsgebiedewet verwyder is.

Van Rooi sê hierdie beleid verenig en formaliseer twee voortdurende prosesse aan die US: die naamgewing en herbenoeming van geboue, lokale en ander fasiliteite en persele, wat onder bestuursbeheer van die Komitee vir die Naamgewing van Geboue, Lokale en ander Fasiliteite en  Persele staan en die werksaamhede van die ad hoc Komitee vir Visuele Regstelling.

Daarbenewens veranker die beleid naamgewingsprosesse aan die US binne die raamwerk van visuele regstelling, waardeur die moontlikhede en die impak van die naamgewing en herbenoeming van geboue, lokale en ander fasiliteite en persele op alle US-kampusse aangevul en verryk word. Daar word voorsien dat albei komitees aktief sal bly, maar met ʼn doelbewuste en regstreekse vorm van wedersydse betrokkenheid, wat gedeelde lidmaatskap kan insluit.

Geskrewe kommentaar, formele voorleggings en navrae kan gestuur word na [email protected] voor 16:00 op Maandag 2 September 2019. Alle insette sal oorweeg word, en verdere konsepweergawes sal van Augustus tot November by die verskillende statutêre liggame ter tafel gelê word. Die finale Konsepbeleid oor Visuele Regstelling sal by die laaste Raadsvergadering op 2 Desember 2019 vir goedkeuring voorgelê word.  

  • Klik hier vir die Konsepbeleid vir Visuele Regstelling 
  •  Lees meer oor Transformasie by die Universiteit Stellenbosch (die Afrikaanse webblad is onder konstruksie).  ​
  • Lees meer oor Visuele Regstelling by die Universiteit Stellenbosch