Skip to main content
Leer isiXhosa by die Woordfees as deel van #Amagama-projek

Leer isiXhosa by die Woordfees as deel van #Amagama-projek

Pia Nänny
25 Februarie 2019

Molo, unjani? Hallo, hoe gaan dit? Ngubani igama lakho? Wat is jou naam? Kushushu! Dit is warm! Umhlobo wam. My vriend. Khawuphinde? Kan jy dit herhaal?

Dit is maar net 'n paar van die isiXhosa-woorde en -frases wat Woordfees-besoekers as deel van die #Amagama-projek 2019 kan leer.

Dié projek word vanjaar vir die tweede keer by die Woordfees aangebied deur studente van die Fakulteit Opvoedkunde. 'n Groep van 14 onderwysstudente met isiXhosa as hoofvak sal daagliks van 4-8 Maart diens doen in die feeskern om feesgangers 100 isiXhosa-woorde en 20 frases te leer.

Jy sal hierdie student by die Erfurthuis, die Khaya, Wilgenhof (Boeke-oase), die Konservatorium en die Adam small-teater vind. Hulle sal beskikbaar wees om mense met die fonetiese uitspraak van die woorde en die sinne te help, asook met die uitspraak van die drie bekende klikke in die isiXhosa-taal.

“Amagama beteken "woordeskat" in isiXhosa," verduidelik Jana Nel, deeltydse dosent aan die Fakulteit Opvoedkunde en organiseerder van die projek.

“Die projek streef daarna om taalgrense sowel as kultuurgrense oor te steek sodat wedersydse begrip en respek aan mekaar getoon kan word. Wanneer een mens na 'n ander kan uitreik deur hom/haar in sy/haar moedertaal te groet, te vra hoe dit gaan en totsiens te sê, maak dit reeds 'n baie groot verskil. Ek is bevoorreg om self IsiXhosa magtig te wees en het al baie keer die positiewe voordele geniet wanneer ek met Xhosa-sprekendes in hul moedertaal gesels," sê sy verder.

Die studente sal groen keppies en Woordfees-t-hemde dra en by hul onderrigborde staan. Daar is ook boekies beskikbaar vir diegene wat graag die woorde wil leer.