Skip to main content
Kyk terug én kyk vorentoe

Kyk terug én kyk vorentoe

Prof Hester Klopper, Deputy Vice-Chancellor: Strategy, Global and Corporate Affairs
05 Mei 2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) het in Maart 2023 drie dekades van formele internasionalisering gevier. Meer as 100 verteenwoordigers van ons vennootuniversiteite het die geleentheid bygewoon, wat saamgeval het met die vergadering van die Stellenbosse Internasionale Akademiese Netwerke (SIAN).

Die viering was 'n geleentheid om terug te kyk op die internasionaliseringsuksesse van die afgelope 30 jaar, wat vele hoogtepunte opgelewer het.

In dié tyd was die doel van internasionalisering om beste praktyke uit te ruil en die werk van sowel akademiese as steundienstepersoneel te ondersteun. Ons studente is die middelpunt van alles wat ons doen, en ons wil sorg dat ons hulle 'n transformerende ervaring bied. Dít sluit in om hulle met globale vaardighede toe te rus sodat ons hulle as wêreldburgers en internasionaal betrokke individue die wêreld kan instuur.

Hierdie benadering het ons goed te staan gekom: Die US behoort tot 36 netwerke wêreldwyd. Altesaam 308 van ons studente het in 2022 'n buitelandse program gevolg, en ons het tot dusver vanjaar 'n rekordgetal van 650 internasionale semesterstudente van oor die hele wêreld verwelkom. Boonop het ons al meer as 40 gesamentlike PhD-grade met 28 internasionale instellings en meer as 60 dubbele magistergrade saam met 11 vennote toegeken.

Maar ons kan nie op hierdie louere rus nie; ons moet vorentoe kyk. Ná 30 jaar vernuwe die US voortdurend sy benadering tot internasionalisering deur tendense dop te hou om te bepaal waar ons verder kan verbeter en versterk.

Die meeste lande beleef 'n verandering in demografie, en bevolkings is oor die algemeen al hoe jonger. Dít impliseer 'n groter vraag na geleenthede in die hoër onderwys. Die vooruitgang in digitalisering en tegnologie lewer aanhoudend nuwe onderrig- en leermetodes op. Die toename in aanlyn programme, netwerke en vennootskappe in die hoër onderwys wêreldwyd vereis dat ons aanpas en bybly met ons onderrigmodelle.

Ná 30 jaar is die US daartoe verbind om ons internasionaliseringsagenda die toekoms in te neem. En ons neem graag ons vennote saam op die reis.

  • Prof Hester C. Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake