Skip to main content
Kultuurhistorikus ontvang toekenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

Kultuurhistorikus ontvang toekenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns

University Museum
16 Oktober 2019

​Prof Matilda Burden, senior navorser in kultuurgeskiedenis by die Universiteitsmuseum van die Universiteit Stellenbosch (US) en buitengewone professor in Geskiedenis en Antieke Kultuur aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, word vereer.

Prof Burden bied geakkrediteerde kortkursusse aan in kultuurgeskiedenis, erfenisbewaring, museumstudies en argitektuurstyle vir die breë publiek en tree as konsultant op vir die inrig van nuwe museums en uitstallings oor die land heen.

Sy was voorheen onder meer lid van die Raad van Erfenis Wes-Kaap, die Wes-Kaapse Kultuurkommissie en die voorsitter van die Wes-Kaapse Raad vir Geografiese name. Sy word in 2016 verkies as visepresident van die internasionale Kommission für Volksdichtung (International Folksong Society) en, vir die tweede maal, as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis.

Prof Burden publiseer wyd en is een van die ontvangers van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die ATKV se pryse vir die vier beste wetenskaplike artikels wat in 2018 in 'n geakkrediteerde vaktydskrif verskyn het. Die Akademie-prys is toegeken vir haar artikel “Argitektoniese elemente en motiewe in Ou-Kaapse meubels", wat in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis verskyn het. 

Aangesien sy uitstedig was tydens die Akademie se oorhandigingsgeleentheid op 14 Augustus 2019, is die prys op 18 September by 'n informele geleentheid deur 'n voormalige voorsitter van die SA Akademie, prof Wessel Pienaar, en die voorsitter van die Wes-Kaapse Werksgemeenskap van die SA Akademie, prof Johan de Villiers, aan haar oorhandig. Prof Wessel Visser van die Departement Geskiedenis het 'n kort commendatio gelewer.​