
Krieketlegendes wys hul slag by Maties Krieket-reünie
Die Suid-Afrikaanse krieketlegende en Maties Krieket-alumnus Peter Kirsten het sy 61ste verjaarsdag Saterdag op die krieketveld by Coetzenburg gevier saam met ander oud-Maties wat die Maties Krieket-reünie bygewoon het.
Maties wat die Universiteit Stellenbosch (US) van 1949-1995 op die krieketveld verteenwoordig het, het die naweek op Stellenbosch byeengekom om herinneringe te deel en ou vriendskappe te laat herleef.
Die naweek het Vrydag afgeskop met 'n gholfdag en 'n dinee by die Stellenbosch-gholfklub. Dit is Saterdag voortgesit met drie krieketwedstryde waarin spelers soos Kirsten, Adrian Kuiper, Roger Telemachus, Dave Rundle en Garth le Roux weer hul slag met die bal of kolf gewys het.
Die oudste person wat die reünie bygewoon het, is James Starke (85) van Stellenbosch. Hy het in 1950 vir Maties krieket gespeel, maar het later as rugbyspeler bekendheid verwerf en het in 1956 saam met die Springbok-rugbyspan na Nieu-Seeland getoer.
Jim Crowe, Colin Rushmere, Roy Justus en Brian Galgut was almal deel van die eerste Matiespan om die Suid-Afrikaanse Universiteitetoernooi te wen (in 1956), en Justus was ook die eerste Matie om in die Suid-Afrikaanse Universiteitespan opgeneem te word.
"Ek is dankbaar dat ek my maters ná 60 jaar weer hier kan sien. Dis wonderlik," het Justus by Vrydagaand se funksie gesê.
Verskeie spelers het die geleentheid gekry om 'n staaltjie of twee uit hul era te vertel, en vir die meeste van hulle was die kameraderie wat hulle ervaar het en die vriendskappe wat hulle gemaak het dít wat hulle ná al die jare nog die beste onthou en die meeste waardeer.
André Parker, 'n speler van die vroeë sewentigs, het in die openingstoespraak gesê hy onthou nie dat hy baie lopies aangeteken het nie, maar hy onthou wel die sosiale sy van krieket speel op Stellenbosch.
"Krieket is 'n wonderlike spel en dit bou karakter. Dit is belangrik dat ons (Maties) die beste spelers werf en ontwikkel. Hopelik sal krieket aanhou groei en floreer, want dit is 'n baie, baie spesiale spel."
Die oud-Springbok Morné du Plessis het vertel hoe hy gekies het om Stellenbosch toe te kom om hier te kom krieket speel. Hoewel hy later kaptein van die Springbok-rugbyspan geword het, het hy in die laat 1960's/vroeë 1970's vir Maties krieket gespeel.
Hy het daarop klem gelê dat hulle ook op die toekoms moet fokus. "Vanaand is oor die verlede en ons kan dit geniet, maar dis die toekoms wat belangrik is," het hy gesê
Die Maties Krieketfonds (Maties Cricket Legacy Fund), 'n fonds wat daarop gerig is om die welstand van die klub te verseker en beurse aan belowende spelers te bied om te verseker dat die Maties-krieketklub mededingend bly teen ander universiteite, is aan die oudspelers bekendgestel.
Planne vir 'n beoogde krieketakademie en binnenshuise krieketsentrum is ook by die reünie uitgestal. Die doel van hierdie akademie sal wees om die mees talentvolle krieketspelers te identifiseer en te ontwikkel.
Die terugvoering oor die reünie was baie positief.
Volgens die organiseerder van die geleentheid, die bekende krieketkommentator prof. Kotie Grové, het hy reeds verskeie e-posse en oproepe ontvang van mense wat die geleentheid baie geniet het en hom en die US daarvoor bedank het.