
Konferensie bevorder Kunsmatige Intelligensie in Afrika
Meer as 500 deelnemers van 30 Afrika-lande en 19 internasionale lande gaan volgende week by die Universiteit Stellenbosch (US) byeenkom vir een van die grootste Kunsmatige Intelligensie (Artificial Intelligence)- en masjienleer onderriggeleenthede ter wêreld.
Die Diepleer Indaba (oftewel die Deep Learning Indaba), die jaarlikse saamkoms van die Kunsmatige Intelligensie-gemeenskap in Afrika, sal vanaf 9 tot 14 September 2018 by die US plaasvind.
Oor ses dae (program) sal die Deep Learning Indaba meer as 500 Afrika-studente, navorsers en entrepreneurs aan verskeie van die wêreldleiers in die vakgebied van masjienleer en Kunsmatige Intelligensie (KI) blootstel. Dit sluit in dr Katja Hofmann, ʼn navorser in die Masjienintelligensie en Persepsie-groep by Microsoft-navorsing aan die Universiteit van Cambridge, en dr Kyunghyun Cho van New York Universiteit en ʼn navorsingswetenskaplike by Facebook KI-navorsing. Van Google is die sprekers prof Jeff Dean, hoof van Google se Navorsing- en Masjienleerafdeling, en dr David Silver, hoof van die Versterkingsleernavorsingsgroep by DeepMind.
Die Deep Learning Indaba is ʼn organisasie van vrywilligers wat hulself ten doel stel het om kapasiteit en eienaarskap van KI in Afrika te bou deur die skep van gemeenskappe, die ontwikkeling van leierskap en om erkenning te gee aan diegene wat in terme van hul navorsing of inisiatiewe KI in Afrika bevorder.
Een van die plaaslike organiseerders, dr Willie Brink van die US, sê hulle is vanjaar oorweldig deur meer as 1 300 aansoeke: “Daar is ʼn deurlopende groei in belangstelling en vaardighede in KI in Afrika. Die Indaba het gegroei van 300 deelnemers in 2017 tot 550 in 2018, met die deelname van vroue wat van 23% tot 30% gegroei het."
Dr Nyalleng Moorosi, ʼn wetenskaplike by Google se KI-laboratorium in Ghana en een van die organiseerders, sê KI het die potensiaal om Afrikane te bemagtig en om pan-Afrika eenheid en ontwikkeling mee te bring: “Dit is waarom pan-Afrika samekomste soos die Indaba so belangrik is, want dit verseker dat ons op groot skaal vaardighede en talente ontwikkel en identifiseer, ten einde die uitdagings die hoof te bied wat ons en die kontinent in die gesig staar."
Dr Shakir Mohamed, ʼn navorsingswetenskaplike by DeepMind in die Verenigde Koninkryk en een van die hooforganiseerders, sê die 2018 Deep Learning Indaba wys duidelik dat daar reeds kapasiteit en vaardighede in moderne masjienleer en KI op die kontinent is: “Ten spyte van heersende persepsies, is Afrikane gereed om die krag van KI in te span om gemeenskappe en die kontinent te bemagtig Dit is van kritieke belang om hierdie vakgebied in Afrika te versterk. Ons het diversiteit nodig en daar is unieke probleme eie aan Afrika. Afrikane moet vormers en eienaars van die vooruitgang in Kunsmatige Intelligensie wees, daartoe bydra en self bepaal hoe dit ons gemeenskappe gaan raak."
Prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier, sê die Deep Learning Indaba geniet die volle ondersteuning van die Universiteit. “Dit is van die grootste belang vir universiteite om op hoogte te bly met die nuutste ontwikkelinge op hierdie vakgebied. Groot data en KI gaan ʼn fundamentele invloed op die wêreld van werk hê, maar ook op die skep en oordrag van kennis – regoor akademiese dissiplines heen. Dit is waarom die Universiteit beplan om binnekort ʼn interdissiplinêre skool vir datawetenskap en rekenaardenke by die Universiteit Stellenbosch te vestig," het hy gesê.
Konferensiegangers sal toegang hê tot 550 rekenaars in vyf rekenaarlaboratoriums en verskeie groot lesinglokale, insluitend tegniese ondersteuning.
Van die belangrikste gebeure en aktiwiteite sluit in:
- Die hoofspreker tydens die opening is prof Nando de Freitas, 'n Suid-Afrikaanse entrepreneur en een van die leidinggewende denkers op dié vakgebied: op Maandag, 10 September;
- Die Kambule- en Maathai toekennings gee erkenning aan prestasies in navorsing en die toepassing van masjienleer in Afrika. Die toekennings sal vir die eerste keer oorhandig word op Woensdag 12 September. Klik hier vir ʼn klankgreep oor die toekennings.
- Die hoofspreker tydens die afsluiting is prof Jeff Dean, globale hoof van Google AI, en ʼn Google Senior Genoot, op Vrydag, 14 September.
MEDIANAVRAE
Kontak die organiseerders by [email protected] om onderhoude met enige van die volgende sprekers en/of organiseerders te reël:
Plaaslike organiseerders:
Dr Willie Brink, Universiteit Stellenbosch
Dr Benjamin Rosman, Universiteit van die Witwatersrand
Internasionale organiseerders
Dr Shakir Mohamed, DeepMind, Verenigde Koninkryk
Dr Ulrich Paquet, DeepMind, Verenigde Koninkryk
Sprekers uit Afrika
Dr Vukosi Marivate, WNNR
Dr Mmaki Jantjies, Universiteit van die Wes-Kaap
Afrika vroue in masjienleer
Dr Nyalleng Moorosi, Google KI Lab, Ghana
Dr Kathleen Siminyu, Jomo Kenyatta Universiteit van Landbou en Tegnologie, en hoof van Data Science: Africa's Talking
Hoofsprekers
Prof. Nando de Freitas, Universiteit van Oxford (Verenigde Koninkryk) en die Universiteit van British Columbia (Kanada)
Prof. Jeff Dean, Google (vir onderhoude, kontak [email protected])