Skip to main content
Kleinseun wen Van der Walt-medalje as beste rekenaarwetenskapstudent by US

Kleinseun wen Van der Walt-medalje as beste rekenaarwetenskapstudent by US

Faculty of Science (media and communication)
17 Mei 2023

​Emil van der Walt het geskiedenis gemaak toe hy die Van der Walt-medalje ontvang het as 2022 se beste derdejaarstudent in Rekenaarwetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US) – 'n medalje wat in 2010 ter nagedagtenis aan sy oupa, Prof. Andries van der Walt ingestel is.

Prof. Van der Walt was 'n gerekende wiskundige wat in die vroeë 2000s 'n groot rol gespeel in die vestiging van rekenaarwetenskap as vakgebied by die US, tans een van die beste teoretiese rekenaarwetenskap-navorsingsomgewings in die land, wat hoofsaaklik konsentreer op Outomaatteorie. Outomaatteorie het te make met abstrakte masjiene − wat die wiskundige modelle vir alle vorme van berekening is - en wat “real world" rekenaars insluit.

Wat die geleentheid nog meer spesiaal gemaak het was die feit dat Mev. Nettie van der Walt, weduwee van Prof. Van der Walt, sélf daar was om die toekenning aan haar kleinseun te oorhandig. Sedert die instelling van die medalje in 2010 het Mev. Van der Walt elkeen van die oorhandigingseremonies in persoon bygewoon. Emil is tans besig met sy BscHons in Rekenaarwetenskap.

Nog 'n spesiale toekenning het aan derdejaarstudent Jean Weight gegaan. Hy het die toekenning vir uitsonderlike navorsingsprestasies in rekenaarwetenskap ontvang nadat hy 'n oplossing vir 'n oop probleem in kombinatorika gevind het. Hy het dít as tweedejaarstudent in Prof. Lynette van Zijl se klas vermag. Hy is eerste outeur van 'n boekhoofstuk getiteld: “A tight upper bound on the length of maximal bordered box repetition-free words" wat ingesluit sal word in Descriptional Complexity of Formal Systems, wat deur SpringerLink gepubliseer word. Hy reis in Julie na Potsdam in Duitsland waar hy hierdie bevindings by 'n internasionale konferensie sal aanbied.

Ander toprekenaarwetenskapstudente van 2022 sluit in: Ryan Christie (beste eerstejaarstudent), Charles de Kock (naasbeste eerstejaarstudent); Iain le Roux (beste tweedejaarstudent); Jean Weight (naasbeste tweedejaarstudent); Wicus van der Linden (naasbeste derdejaarstudent en beste student in masjienleer); Brandan Watling (beste honneursstudent); en Lauren Hayward (beste honneursprojek).

Hierdie jaar se pryse is geborg deur maatskappy soos BBD Software Development, CyberIM, Impact, Praelexis en Spatial Edge.

Prof. Brink van der Merwe, hoof van die Afdeling Rekenaarwetenskap het weer die maatskappye en hul verteenwoordigers bedank vir hulle volgehoue ondersteuning: “Ons kan nie ons studente genoegsaam voorberei vir die werkswêreld sonder julle betrokkenheid nie," het hy beklemtoon.

Meer oor Prof. Andries Petrus van der Walt

Prof. Andries van der Walt is in 1978 in die Departement Wiskunde by die Universiteit Stellenbosch aangestel. Hy het 'n positiewe invloed gehad op navorsingskatiwiteite in algebra, veral die teorie van ringe en byna-ringe. In 1984 het hy die eerste A-gegradeerde navorser in die departement geword. In 2002 is hy as Professor in Rekenaarwetenskap aangestel, waartydens hy nuwe navorsingsvelde bekend gestel het en ook daarin geslaag het om ou navorsingsonderwerpe te laat herleef. Gedurende die laaste sewe jaar van sy akademiese loopbaan het hy 'n belangrike rol gespeel in die vestiging van rekenaarwetenskap as vakgebied by die US, tans een van die beste teoretiese rekenaarwetenskapnavorsingsomgewings in die land, wat hoofskaalik konsentreer op Outomaatteorie. Outomaatteorie het te make met abstrakte masjiene, wat die wiskundige modelle vir alle vorme van berekening is, insluitend “real world" rekenaars. Hierdie veld vorm die kern van die wetenskap van berekening en is fundamenteel tot alle aspekte van hierdie vakdissipline.  'n Sentrale tema is die verhouding tussen tyd en ruimte wat berekening vereis, en outomaatteorie verskaf die gereedskap om hierdie vraag wetenskaplik te bestudeer.  

Prof. Van der Walt het in 1963 sy PhD in Wiskunde aan die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (die hedendaagse Noordwes-Universiteit) verwerf met Prof. Hendrik Jacobus Schutte as studieleier. Volgens die Mathematics Genealogy Project van die American Mathematical Society, het Prof. Van der Walt tien studente en 68 afstammelinge/nasate, waaronder Prof. Lynette van Zijl (1997) in die US se Afdeling Rekenaarwetenskap, en Prof. Leon van Wyk (1986), hoof van die US se Afdeling Wiskunde.

Bronne:

Dreyer et al. 2018. A particular frame of mind. Faculty of Science, Stellenbosch University, 1918-2018. Stellenbosch University.

Mathematics Genealogy Project. Andries Petrus J. van der Walt. Online at Andries van der Walt - The Mathematics Genealogy Project (nodak.edu)