
Kenner van taalverwerwing sluit by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan
Dr Elbie Adendorff, senior lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands, het as volwaardige lid by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se geledere aangesluit. Sy doseer reeds sedert 2004 by die Departement.
Hoewel dit enigiemand vry staan om aansoek te doen om lidmaatskap, het die Akademie, wat in 1909 gestig is, streng kriteria waaraan 'n aansoeker moet voldoen voordat hulle deur die Akademieraad tot lid verkies word. Volgens die Akademie se Akte van Oprigting sluit dit “[w]erk van hoë gehalte", “'n verantwoordelike betrekking in die eie vakgebied" en “eweknie-erkenning op die vakgebied of werkterrein" in.
Dr Adendorff se navorsingsuitsette en die puik studieleiding wat sy aan haar nagraadse studente bied, strek nie net die Departement tot voordeel nie, maar ook wetenskapskrywing in Afrikaans en haar spesialisgebied van taalverwerwing.