Skip to main content
Kampuswye opname oor afvalbestuur

Kampuswye opname oor afvalbestuur

Facilities Management / Fasiliteitsbestuur
16 September 2019

Afval is oraloor ʼn ernstige kwessie. Die Universiteit Stellenbosch (US) het in die verlede goed daarin geslaag om soortgelyke uitdagings met betrekking tot energie en water die hoof te bied. Nou streef ons daarna om die hoeveelheid afvalmateriaal wat op stortingsterreine beland, te verminder.

ʼn Afvalreaksiegroep, bestaande uit ʼn verskeidenheid verteenwoordigers en kampvegters van regoor die kampusse – saamgeroep deur Fasiliteitsbestuur – vergader elke maand, en spesialiskonsultante word ook ingeroep om hulle kundigheid en ondervinding by te dra.

As een van die eerste inisiatiewe sal ʼn opname onder alle studente en personeel gedoen word om ʼn wye verskeidenheid stemme se persepsies en voorstelle in te sluit by die soeke na oplossings.

Die oorhoofse doel is om meer afval van stortingsterreine weg te keer deur heroorweging, vermindering, hergebruik en herwinning om nuwe siklusse te vestig en sodoende die materiaalkringloop te help sluit.

Maniere om die Universiteit se afvalbestuurstelsel te verander sodat doeltreffendheid verhoog kan word, sal ondersoek word. Dit sal insluit dat enkelgebruikplastiek en -materiale tot die minimum beperk word. Kommunikasie, inligting en opvoeding om die stelsel te verstaan en dit makliker te maak om betrokke te wees, sal ook deur verskillende kanale uitgestuur word.

Die US is reeds een van die voorste universiteite wat volhoubaarheid betref. Afvalvermindering is een van sy hoof- volhoubaarheidsdoelwitte en dra by tot omgewingsbewaring deur kweekhuisgasvrystellings te verlaag.

Die WNNR bereken dat 16 meer werkgeleenthede per 1 000 metrieke ton afval geskep word deur dit na die herwinningsekonomie te kanaliseer, as om dieselfde hoeveelheid na stortingsterrein te stuur. Daar is dus ook beduidende sosio-ekonomiese voordele.

Dit kos die Universiteit jaarliks miljoene om onherbruikbare of onherwinbare afval van die kampusse na stortingsterreine te stuur. Soos die stortingsterreine vol raak, sal die koste bly toeneem. Dit maak dus op talle maniere sin om waar ons ook al kan, afval te verminder, te hergebruik en te herwin.

Soos Nicolette van den Eijkel, Hoofdirekteur: Fasiliteitsbestuur, sê: “Ons moet besef dat materiale wat as afval weggegooi word, in ekonomiese, maatskaplike en omgewingswaarde toeneem indien dit herwin en hergebruik word, maar ʼn onkoste is as dit gestort word. Alle belanghebbendes – studente, personeel en diensverskaffers – kan ʼn waardevolle bydrae lewer om die kringloop te help sluit en te strewe na geen afvalstorting."