Skip to main content
Kaapse Kleurlingkorps-gesprek neem oorlogstrauma onder die loep

Kaapse Kleurlingkorps-gesprek neem oorlogstrauma onder die loep

Corporate Communications and Marketing
31 Julie 2023

Wat gebeur wanneer mense se traumatiese geskiedenis negeer word? Dit was die uitgangspunt van 'n post-doktorale projek wat tot 'n betekenisvolle byeenkoms in die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps-gedenksaal in Athlone gelei het. Hier het militêre veterane en familielede 'n hoofstuk in die geskiedenis herbesoek wat vir lank begrawe was.

Dr Danille Bester, 'n postdoktorale genoot by die Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ), het onlangs 'n oorsig van die geleentheid gegee. Die doel van Bester se navorsingstudie was om na die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Kaapse Kleurlingkorps te kyk en om bewustheid te skep oor die nadraai van geweld en 'n waardering vir die rede waarom herstel noodsaaklik is vir maatskaplike geregtigheid.

Militêre veterane en familielede is uitgenooi om hulle persoonlike verhale oor “die vergetelinge" te deel. 'n Uitstalling van historiese foto's en 'n seremonie om die gesneuwelde soldate te vereer wat hulle lewens opgeoffer het in diens van 'n land wat hulle nog nie van segregasie bevry het nie, het tot die betekenisvolle geleentheid op 7 Julie bygedra.

Die Kaapse Kleurlingkorps is die eerste keer tydens die Eerste Wêreldoorlog as 'n eenheid gemobiliseer en is uitsluitlik in die Kleurlinggemeenskap gewerf. Hulle is later deur die Britse en apartheidsregering opgeroep vir die Tweede Wêreldoorlog en die Grensoorlog van die 1970's en 1980's. Ondanks hierdie nalatenskap het hul diens aan die land dikwels nie die nodige erkenning in die openbare ruimte ontvang nie.

Volgens Bester verteenwoordig die Kaapse Kleurlingkorps 'n gemarginaliseerde aspek van Suid-Afrika se militêre geskiedenis wat nie dieselfde erkenning of eer ontvang het as ander oorlogsveterane nie. Die gemeenskapsgesprek, wat deur nagenoeg 80 mense bygewoon is, het ten doel gehad om bewustheid te skep oor die onderdrukte geskiedenis en hoe hierdie soort historiese ongeregtigheid ook nog in die toekoms 'n uitwerking kan hê.

Abdul Waggie, 'n lid van die Suid-Afrikaanse Kaapse Korps Militêre Veteraan-vereniging, het by die geleentheid roerend vertel hoe sy pa se oorlogervarings hulle verhouding beïnvloed het. “Hoewel my pa nooit regtig oor sy militêre jare gepraat het nie, was dit duidelik dat hy steeds baie trauma uit daardie tyd ervaar het. Hy was kwaad," het Waggie gesê. “My pa het 'n diepgewortelde haat vir die regering gehad. Hy het met soveel pyn teruggekeer van die oorlog af. Dit kon nooit genees nie. Hy het só gesterf."

Waggie het 'n herinnering uit sy kinderdae gedeel van hoe sy pa, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Egipte en Italië diens gedoen het, klippe na die standbeeld van generaal Jan Smuts op die hoek van Adderley- en Waalstraat in Kaapstad gegooi het. “Hy het op die standbeeld gespoeg en gevloek. Hy het so 'n herrie opgeskop dat die polisie hom in hegtenis geneem het. Hulle het hom net vrygelaat omdat ek saam met hom was."

Nadat hulle gedemobiliseer is, is veterane van die Kaapse Korps voordele soos militêre pensioene geweier, terwyl hulle wit eweknieë dit ontvang het. Volgens Waggie het baie veterane 'n wrok teen die regering gekoester. “Toe my pa van die oorlog af teruggekeer het, het hy net 'n fiets, 'n jas en 'n tent gekry," het Waggie gesê.

Baie van die ander stories het hierdie gegriefdheid van Kaapse Korps-soldate herhaal wat verraai gevoel het deur die regering wat hulle gedien het. Sommige veterane het teruggekeer na die antagonisme en wrokkigheid van hulle gemeenskappe omdat hulle namens 'n ondemokratiese regering aan oorloë deelgeneem het.

Die persoonlike verhale van familielede is toegelig deur 'n programrede deur prof Albert Grundlingh van die US se Departement Geskiedenis wat historiese konteks aan die Kaapse Korps se aktiewe jare gegee het. “Die akademiese standpunt was belangrik, want baie van die mense by die geleentheid het nie geweet dat 'n deel van die geskiedenis wel opgeteken is nie. Dit het aangedui hoe die persoonlike trauma wat onderdruk is, met hierdie gewelddadige geskiedenis omgaan," het Bester opgemerk.

By die seminaar ná die geleentheid, is René van der Berg, die US se sosialemediakoördineerder, gevra om briewe, foto's en dokumente van haar oupagrootjie, Joseph Ralph van der Poel, te deel. Hy het van 1940 tot 1944 in die Kaapse Korps gedien.

Bester sê die projek het twee van haar belangstellings gekombineer – 'n persoonlike militêre agtergrond en 'n passie vir Kleurling-identiteit. “My vakgebied is die sielkunde – 'n beroep wat mense help – en die aanvanklike doel was deels om 'n mate van verandering te help fasiliteer." Sy beskryf die skakeling as baie betekenisvol en sê dit het gewys hoe herstellingsgeregtigheid 'n proses aan die gang kan sit om waardigheid te herstel en bewustheid oor die nadraai van geweld te skep.

Bester sê verder sy gaan maniere ondersoek om die vertellings van die mense wat deur hierdie tragiese geskiedenis geraak is, op te teken. “Militêre veterane nader die einde van hulle lewe en dit is uiters belangrik om hulle ervarings op te teken en argiewe te bewaar wat hierdie kritieke hoofstuk in die openbare geskiedenis dokumenteer. Ek dink daar is nog baie geleenthede om met hierdie onderwerp om te gaan om die stories op 'n visuele manier op te neem en om die verhale op kreatiewe maniere vas te vang. Hierdie projek toon hoe belangrik dit is om terug te gaan in die geskiedenis om trauma te verstaan wat oor geslagte heen strek en vandag nog steeds ons lewe beïnvloed."

  • Die Kaapse Korps-uitstalling is deur die Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ), die Universiteit Stellenbosch en die Nasionale Instituut vir Geesteswetenskappe en Sosiale Wetenskappe aangebied as deel van die strewe na herstel.

FOTO: Cape Argus, Independent Newspapers


Foto's onder:

Die gemeenskaps interaksie het 'n foto-uitstalling, 'n seremonie om gevalle oorlogshelde te herdenk, en 'n toespraak deur emeritus prof Albert Grundlingh oor die historiese konteks van die Suid-Afrikaanse Kaapse Kleurlingkorps ingesluit. 'n Paneelbespreking gefasiliteer deur dr Danille Bester het gelei tot 'n sinvolle gesprek oor die nalatenskap van die SAKKK.