
Jong verskilmakers leer by internasionale kenners
Mnr Nick Wayne, ʼn vierdejaar- mediese student en voorsitter van die Tygerberg Studenteraad, het vroeër vanjaar ʼn toonaangewende internasionale leiersbyeenkoms bygewoon waar hy die geleentheid gekry het om te skakel met jong verskilmakers (changemakers).
Deelnemers is die geleentheid gegee om by internasionaal gerekende kenners te leer hoe om projekte te ontwikkel wat enige maatskaplike verandering kan aanspreek, van onderwys en gesondheidsorg tot volhoubaarheid.
Dié byeenkoms, bekend as die Global Engagement Summit (GES), is aangebied by die Northwersten University (NU) in Evanston, Illinois in die Verenigde State van Amerika en is bygewoon deur 500 kursusgangers van 45 lande.
"Ek het praktiese vaardighede aangeleer wat van onskatbare waarde vir my loopbaan is, maar ek sou nooit hierdie vaardighede ontwikkel het as dit nie was vir die strategiese vennootskap tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en NU nie," het Wayne gesê.
Wayne het van die geleentheid gebruik gemaak om meer te leer oor die bestuur van gesondheidsorg, met ʼn spesifieke fokus op bemarkingsvaardighede. "My ervarings by die beraad het my toegerus met die nodige vaardighede om my huidige doelwitte te bereik en my gehelp om vas te stel wat ek gaan benodig om in die toekoms projekte aan te pak."
Hy het saam met ʼn mentor van NU se Mediese Skool gewerk en met personeel van die Kellogg Besigheidskool vergader om ʼn meervlakkige benadering tot gesondheidsorgbestuur te ontwikkel.
Interessante aanbiedings wat Wayne tydens die byeenkoms bygewoon het, het ingesluit praatjies oor doeltreffende aanbiedings in twee minute (hysbak-aanbiedings); hoe om projekte volhoubaar te maak; hoe om ʼn wins te maak en maatskaplik verantwoordbaar te wees; en openbare gesondheidsorg.
Wayne het gesê wat hy die meeste waardeer het, was dat hy die geleentheid gegun is om met buitengewoon begaafde mense van regoor die wêreld in verbinding te tree en deel van ʼn ongelooflike alumni-netwerk te word. "Dié netwerk is aktief en ondersteun nuwe idees en is beslis ʼn omgewing wat ek in die toekoms sal kan gebruik," het hy gesê.
"Ek wil graag spesifiek die US se Nagraadse en Internasionale Kantoor bedank wat hierdie geleentheid vir my moontlik gemaak het en ondersteuning van onskatbare waarde gebied het," het Wayne gesê.