
Jong TB-navorser by internasionale navorsingsgroep ingesluit
Mnr Michael Whitfield is as ʼn nadoktorale navorser aangestel as deel van die Odysseus-program wat deur die Vlaamse regering gefinansier word. Whitfield is ʼn mikrobioloog en navorser in tuberkulose (TB) in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Odysseus-finansiering word aangebied aan navorsers wat hulle loopbane hoofsaaklik in die buiteland gevestig het. Hulle ontvang ʼn toelae vir vyf jaar wat hulle in staat stel om ʼn internasionale navorsingsgroep te vestig.
Prof Annelies Van Rie van die Universiteit van Antwerpen het finansiering van Odysseus ontvang om ʼn internasionale navorsingsgroep te vestig wat die haalbaarheid van ʼn sentrum vir genomiese volgordebepaling sal ondersoek om belangrike vraagstukke in verband met TB aan te spreek. Die navorsingstudie is getiteld "Development of a Centre for Whole Genome Sequencing studies of Mycobacterium Tuberculosis."
"Ek is deel van Van Rie se navorsingsgroep en sal die kliniese isolate vir die studie voorsien," het Whitfield gesê. Isolate is suiwer mikrobiese stamme wat van ʼn gemengde laboratoriumkultuur afgeskei word.
Van Rie het in 2000 ʼn PhD-graad aan die US behaal en het sedertdien nou met die TB-navorsers in die Fakulteit aan verskeie projekte saam gewerk.
Whitfield sal sy PhD-graad in Desember vanjaar ontvang vir sy navorsing getiteld "Pyrazinamide Resistance in Mycobacterium tuberculosis."
Hy het drie artikels in internasionale vaktydskrifte gepubliseer voordat hy sy graad voltooi het. "Dit is ʼn interessante projek en skep ook die geleentheid om my navorsing plaaslik en internasionaal voor te dra," het hy gesê.
Sy eerste navorsingsreferaat, getiteld "Mycobacterium tuberculosis pncA Polymorphisms That Do Not Confer Pyrazinamide Resistance at a Breakpoint Concentration of 100 Micrograms per Milliliter in MGIT" is in die Journal of Clinical Microbiology gepubliseer. Hiermee het hy die HD Brede-prys vir ʼn uitsonderlike referaat in biomediese navorsing gewen.
"Dit is ʼn prestasie op sigself wanneer studente hulle navorsing in gerekende vaktydskrifte kan publiseer," het prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing gesê.
Die HD Brede-prys word toegeken aan uitnemende TB-navorsers tydens die FGGW se Akademiese Jaardag. "Vanjaar is die prys in twee kategorieë toegeken, een vir kliniese navorsing en een vir biomediese navorsing," het Gey van Pittius gesê.
Dr Stephanie Thee het die prys vir die beste referaat in kliniese navorsing ontvang vir haar referaat getiteld "Pharmacokinetics and Safety of Moxifloxacin in Children with Multidrug-Resistant Tuberculosis".
Foto: Mnr Michael Whitfield ontvang die HD Brede-prys vir die uitstekende referaat in biomediese navorsing van prof Nico Gey van Pittius by die Akademiese Jaardag.