
Johan de Villiers terug op US verhoog met Verdi Requiem
Kunstenaars en musici:
Hlengiwe Makhwanazi (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Luvo Maranti (tenoor), Conroy Scott (bariton), 100 oud-Libertaskoorlede en orkes van 50 professionele instrumentaliste met Petri Salonen (konsertmeester).
Die dirigent Johan de Villiers se terugkeer vanjaar na die konsertverhoog sluit in twee uitvoerings op 18 en 19 November van die Verdi Requiem as afsluiting van die 2023 Endler Konsertreeks in Stellenbosch.
De Villiers, wat die Stellenbosch Universiteitskoor gedurende 1977-1984 gedirigeer het, was daarna in 1989 die stigtingsdirigent van die Libertaskoor wat na 33 jaar onder sy leiding in November verlede jaar vir die laaste keer opgetree het. Onder hom as dirigent, met 'n nagenoeg 100-sterk groep koorsangers bestaande uit meestal oud-Libertaskoorlede, tesame met die gevierde operasangers Hlengiwe Makhwanazi (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Luvo Maranti (tenoor) en Conroy Scott (bariton) , asook 'n orkes van 50 professionele instrumentaliste met konsertmeester Petri Salonen, gaan die klanke van die Italiaanse komponis Guiseppe Verdi se Requiem die Endlersaal vul.
Hierdie grootskaalse werk van 90 minute lank tel beslis onder die mees geliefde oratoria uit alle tye en bied aan beide uitvoerder en gehoor 'n musikale belewenis om te koester. Die eerste uitvoering daarvan was in 1874 in Milaan, met Verdi self op die podium, en het saamgeval met die eerste herdenking van die Italiaanse skrywer Alessandro Manzoni se sterfdag. Hierdie Verdi Requiem, 'n toonsetting van die standaard Latynse teks van die Katolieke dodemis, is trouens opgedra aan Manzoni, vir wie Verdi groot bewondering gekoester het. Guiseppe Verdi, wie se leeftyd van 1813 tot 1901 gestrek het, se roem as operakomponis is omvattend en groots. Die Requiem het gevolg slegs drie jaar na die ekstatiese ontvangs van sy opera Aïda en is kenmerkend tot oorlopens gevul met lieflike melodieë en dramatiese opwellings.
De Villiers, tesame met al sy mede musici op die verhoog beskou dit as 'n enorme voorreg om hierdie magtige oratorio in spesifiek Stellenbosch se Endlersaal uit te voer. Hy meen deelname beloof om beide vir die gehoor en uitvoerders 'n uitsonderlike musikale belewenis te wees.
De Villiers was ook onlangs te sien as dirigent van die produksie Van Mozart tot Verdi: Operahoogtepunte wat benoem is vir 'n 2023 Toyoya US Woordfees trofee vir Beste Prestasie in Klassieke Musiek (Vokaal). Dieselfde wenspan soliste, onder andere Makhwanazi, du Toit-Pearce, Scott, Maranti asook Salonen as konsertmeester wat saam emt hom aan die uitvoering deelgeneem het, sal ook in November in Requiem te sien wees. Volgens mezzo-sopraan, Minette du Toit-Pearce, is sy baie opgewonde om hierdie “monumentale werk" vir 'n tweede keer onder De Villiers se leiding te kan uitvoer en die verhoog te kan deel met soliste van die kaliber. “Die Verdi Requiem is vir my veral besonders omdat die mezzosopraan sulke ongelooflike oomblikke van musike het om te sing," verduidelik Du Toit-Pearce.
Die twee uitvoerings vind plaas op Saterdag 18 November en Sondag 19 November, beide uitvoerings met 'n begintyd van 16:00, in die Endlersaal, Stellenbosch. Kaartjies daarvoor teen R 280 elk is reeds beskikbaar by Webtickets onder die titel “Verdi Requiem conducted by Johan de Villiers".
Bespreek so gou moontlik om nie hierde unieke en indrukwekkende werk mis te loop nie.
Opvoerings:
Saterdag 18 Nov 16:00
Sondag 19 Nov 16:00
Endlersaal | Stellenbosch Konservatorium
Kaartjiepryse: R280
- Bespreek by Webtickets: https://www.webtickets.co.za/v2/Event.aspx?itemid=1533926207
Vir meer inligting kontak:
Epos: [email protected]
Tel: 021 808 2358
Webwerf: www.endler.sun.ac.za
Instagram: www.instagram.com/sukonservat…
Facebook: www.facebook.com/Stellenbosch…