Skip to main content
Jaco Franken ontvang toekenning vir beste MBA-student

Jaco Franken ontvang toekenning vir beste MBA-student

Ronél Beukes
10 April 2019

​By 'n spesiale toekenningsgeleentheid van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool (USB) ter viering van sy beste nagraadse studente verlede week, het dr Jaco Franken, bestuurder van die Nagraadse Skool vir Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die toekenning vir die beste algehele MBA-student ontvang.

Die graad MBA (cum laude) is op Woensdag, 3 April 2019 aan Franken toegeken.

“Dit is waarlik 'n besondere prestasie wanneer 'n mens in ag neem dat Jaco gestudeer het terwyl hy voltyds gewerk het," het prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe gesê.

Franken, wat vroeëer 'n PhD-graad in Biotegnologie aan US verwerf het, het ook in 2018 die MBA-toekenning vir besondere prestasie in die module Business in Society ontvang. Bo en behalwe sy kwalifikasies in Biotegnologie, het hy in 2016 'n MPhil-graad in Wetenskap en Tegnologiese Studie (cum laude) by die US Sentrum vir Navorsing en Evaluasie voltooi.

Vir sy MBA-tesis het Franken die private opbrengs op naskoolse tegniese en beroepsonderwys in Suid-Afrika ondersoek. Sy studieleier was prof André Roux van USB.

Franken sê hy is baie gelukkig oor die toekenning en dankbaar dat PPS sy prys geborg het. “Die grootste uitdaging gedurende my MBA-studie was om 'n balans tussen werk, studie en gesin te handhaaf," het hy bygevoeg.

Dis geen wonder dat hy vanjaar 'n blaaskans neem en nie studeer nie!

  • Foto deur USB verskaf (v.l.n.r.): Die beste algehele MBA-student, dr Jaco Franken; en me Danielle Muller van PPS, borg van die prys vir die beste MBA-student; by mnr Martin Butler (ver regs), hoof van die MBA-programme by USB.