
Internasionale MIV-netwerk vind baat by plaaslike kundigheid
Jare se harde werk en toewyding aan individue, gesinne en gemeenskappe wat deur MIV geraak word, is beloon toe me Joan Coetzee as die mede-ondervoorsitter van die Protocol Development and Implementation Subcommittee (PDISC) van die AIDS Clinical Trials Group (ACTG) verkies is.
Coetzee is verantwoordelik vir die portefeulje wat die netwerk tussen alle ledelande buite die VSA fasiliteer, terwyl die ander mede-ondervoorsitter die portefeulje vir lede in die VSA hanteer. Die ACTG word deur die National Institutes of Health befonds. Dit is die grootste netwerk in die wêreld van kenners op die gebied van kliniese ondersoeke en kliniese proewe waar behandeling (soos nuwe medikasie) getoets word.
"Dit is vir my ʼn groot eer om ons navorsingseenheid in die internasionale arena op die terrein van gemeenskapsgebaseerde navorsing oor MIV en Tuberkulose (TB) te verteenwoordig," sê Coetzee, ʼn senior projekbestuurder by die FAM-CRU-navorsingseenheid (voorheen KID-CRU) van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US). FAM-CRU fokus hoofsaaklik op navorsing oor behandeling vir en die bestuur van families wat deur MIV/Vigs en TB geraak word.
"Hierdie geleentheid bied ʼn platform om op ʼn breë vlak insette te lewer oor sake wat navorsingspanne op grondvlak raak, byvoorbeeld die implementering van nuwe projekte, die uitvoerbaarheid van protokolle vir spesifieke omgewings, asook om verpleegkundiges se sienswyses te verteenwoordig," sê sy.
Sy het in Junie vanjaar die jaarlikse ACTG-byeenkoms in Washington bygewoon waar sy ʼn fasiliterende rol gespeel het en groepsbesprekings gelei het. Sy het ook die Frontier Science Technology and Research Foundation (FSTRF) in Amherst, New York, besoek waar sy by die Data Management Centre ʼn aanbieding, getiteld "A perspective on international sites, quality assurance and management systems", gedoen het.
Haar betrokkenheid by FAM-CRU se Gemeenskapsadviesraad (Community Advisory Board [CAB]) bied aan haar die nodige ervaring en insig in gemeenskapsgebaseerde navorsing om ʼn beduidende bydrae te lewer. "Die wetenskaplikes het nie noodwendig die insig om te weet hoe om hulle navorsing aan te pas sodat dit aanklank vind by die mense wat aan die studies deelneem nie. Hulle sal byvoorbeeld vraelyste in wetenskaplike taal opstel en vra hoeveel nikotien jy per dag inneem. Ek het deur ondervinding geleer dat dit beter is om te vra hoeveel sigarette jy per dag rook en dan self die navorsing te doen oor hoeveel nikotien per sigaret ingeneem word."
Coetzee glo dit is belangrik om ook die verskillende kultuurgebruike in ag te neem om navorsingsprojekte suksesvol te kan voltooi. "ʼn Mens moet die populasie verstaan om jou protokolle suksesvol te kan implementeer en die struikelblokke proaktief te akkommodeer," verduidelik sy. "Voorbeelde is die gebruik van tradisionele genesers in die behandeling van sekere siektetoestande en die gebruik in sommige gelowe dat priesters medikasie moet seën voordat pasiënte dit mag inneem".
Coetzee, ʼn opgeleide verpleegkundige, is reeds vir die afgelope 14 jaar deel van die FAM-CRU-navorsingseenheid by die FGGW en het omvattende ervaring in navorsing oor MIV en die versorging van die families wat deur MIV geraak is.
"Ek het destyds ʼn nuwe loopbaan by KID-CRU begin en ondervinding in navorsing hier opgedoen. Vandag weet ek wat die doel en impak van navorsing is en watter verskil dit in gemeenskappe maak," sê Coetzee.