
Internasionale kollokwium oor spierfisiologie in Stellenbosch
Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) was die gashere vir die vierde tweejaarlikse Indiese Oseaan-rand Spier Kollokwium wat van 24 tot 26 Januarie by die Asara konferensiesentrum buite Stellenbosch plaasgevind het.
Prof. Kathy Myburgh, uitgelese professor in Fisiologiese Wetenskappe by die US, en dr. Carola Niesler van die Departement Biochemie en Molekulêre Biologie by UKZN, was mede-voorsitters van die reëlingskomitee. Prof. Myburgh beklee ook die DWT/NNS leerstoel in Geïntegreerde Skeletspierfisiologie, -biologie en –biotegnologie.
Die konferensie het gefokus op die ontwikkeling en instandhouding van spierkrag en die integriteit van bindweefsel en die manipulasie daarvan. Dié temas is vanuit die molekulêre, dierlike en menslike weefsel ondersoek.
