
Internasionale erkenning vir uitnemende voorgraadse navorsing
Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn sterk gevestigde navorsingskultuur en voorgraadse studente word gemotiveer om by navorsingsprojekte betrokke te raak.
Volgens prof Nico Gey van Pittius, die Visedekaan van Navorsing, word voorgraadse navorsing by die FGGW aktief ontwikkel en bevorder. Studente word by die Fakulteit se navorsingskultuur geïntegreer met die oorhoofse doelwit om voorgraadse onderrig te versterk en om hulle voor te berei op ʼn loopbaan in akademie en navorsing en sodoende die mediese navorsingskapasiteit in Suid-Afrika en die Afrika-vasteland te bevorder.
Twee MB,ChB-alumni wat in 2015 van die geleentheid gebruik gemaak het om ʼn vrywillige navorsingsprojek tydens hulle finalejaarte doen, se werk is vanjaar deur die African Journal of Urology vir publikasie aanvaar. Dit is 'n besondere prestasie vir jong navorsers wanneer hulle werk in hoogsaangeskrewe vaktydskrifte gepubliseer word.
Dr Nicolaas Gildenhuys, wat tans sy internskap in Durban doen, se publikasie is getiteld "Autosomal Dominant Polycystic Kidney Disease, incidental finding with trauma: Case report and review of the literature". Dit is aanlyn beskikbaar by http://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S111057041600014X
Dr Marguerite Barnard se navorsingsprojek is getiteld "Patient knowledge of Urethral Stricture Disease in a State Sector South African Academic Hospital".
Na aanleiding van hierdie navorsingsprojek is sy deur die internasionale urologie-vereniging, Société Internationale d'Urologie, as gasspreker genooi na hulle 36ste kongres wat in Oktober in Buenos Aires gehou is. Sy het haar navorsing by drie afsonderlike sessies voorgedra, naamlik die Urologie in Afrika-simposium, die simposium oor bekostigbare nuwe tegnologie in Urologie en die "Resident's Forum".
Barnard is ook genooi om haar navorsing voor te dra by die 34ste Wêreldkongres vir Endo-urologie wat vroeg in November 2016 in Kaapstad gehou is.
Sy doen tans haar internskap by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria.
Prof André van der Merwe, hoof van die Afdeling Urologie en beide studente se skripsieleier, het gesê dit is ʼn besondere voorreg en prestasie om op so ʼn jong ouderdom jou navorsing aan die wêreld te kan voordra. Hy hoop dat dit ander studente sal motiveer om by voorgraadse navorsing betrokke te raak.
Studente wat in navorsing belangstel, kan aanklop by die FGGW se Voorgraadse Navorsingskantoor onder leiding van me Debbie Marais ([email protected]) en ook aansluit by die Tygerberg-kampus se navorsingsvereniging vir voorgraadse studente, genaamd Q.
Foto: Dr Marguerite Barnard