Skip to main content
Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit: Varswater-biodiversiteit noodsaaklik vir ons oorlewing

Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit: Varswater-biodiversiteit noodsaaklik vir ons oorlewing

Michael Samways
22 Mei 2023

Die Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit word jaarliks op 22 Mei gevier. In ʼn meningsartikel vir die Cape Times, skryf prof Michael Samways van die Departement Bewaringsekologie en Entomologie dat varswater-ekostelsels, saam met die plantegroei op die rande en walle en ander biodiversiteit, van die uiteenlopendste op die planeet is en noodsaaklike dienste aan mense lewer.

  • Lees de vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Michael Samways*

Mense het gesonde vars water nodig. Dit verskaf ons basiese behoeftes, hetsy om te drink, te was, vir besproeiing van ons gewasse of om krag- en produksiebedrywe aan te dryf. Maar waterstelsels bly gesond en lewendig wanneer die biodiversiteit wat met hulle verbind word, ongeskonde bly.

Plante neem water op deur hulle wortels en stoor dit bogronds in hulle strukture. Water word dan stadig teruggegee aan die atmosfeer om weer as reën op 'n ander plek te val. Plante hou ook die grond in plek om erosie te voorkom en herversprei water oor die landskap. Die grond wat die plante ondersteun, is ook 'n lewende stelsel en die tuiste van miljoene der miljoene mikrobes, klein diertjies en fungi wat dit lewendig en stabiel hou en laat vernuwe. Kortom, water, grond en biodiversiteit is nou verbind.

Ander water dreineer sagkens uit die gesonde, groen landskap om uiteindelik in stroomstelsels te beland. Hierdie strome sluit bymekaar aan en word dan riviere. Waar die grond gelyk is, of aan die onderkant van hellings, word water in poele, mere of vleilande opgegaar. Dit is sponse wat nie net 'n ongelooflike klomp organismes ondersteun nie, maar ook water na die omliggende grond sirkuleer. So duur die siklus van water en lewe voort. Of ten minste totdat ons dit oorbenut.

Die Internasionale Dag vir Biologiese Diversiteit word jaarliks op 22 Mei gevier om ons daaraan te herinner dat varswater-ekostelsels, saam met die plantegroei op die rande en walle en ander biodiversiteit van die uiteenlopendste op die planeet is en noodsaaklike dienste aan mense lewer. Tog is hierdie ekostelsels op elke vasteland en in elke stroomgebied aan die afneem. Vandag vloei sowat een-derde van die wêreld se varswater deur landbou-, nywerheids- of stedelike gebiede. Boonop word een-vyfde van bewerkbare grond besproei, met hierdie verhouding wat teen die middel van die 21ste eeu tot meer as een-derde sal verhoog.

Netso is daar slegs sowat een-vyfde van die wêreld se varswatervleilande oor, met minder as een-tiende wat waarskynlik nog teen 2050 ongeskonde sal wees. Die agteruitgang van varswater-ekostelsels kan egter met behulp van streng beleidsaksies verstadig word. Dit moet een van ons allerhoogste prioriteite vir 'n volhoubare toekoms wees indien ons op lang termyn wil oorleef.

Die uitdaging lê daarin dat varswater-ekostelsels op verskeie manier benadeel word. Eerstens kan hulle deur gebeure baie verder stroom-op beïnvloed kan word. Tweedens is hulle ook onderworpe aan die uitwerking van baie landgebruik-afvalwater en is hulle vatbaar vir menslike aktiwiteite op die omliggende grond en langs die rivieroewers. Derdens is daar mededingende belange tussen baie tipe menslike watergebruikers. Uit 'n biodiversiteitsoogpunt ondersteun varswater-ekostelsels talle onvervangbare en gelokaliseerde spesies wat nie die menigte skadelike invloede kan ontvlug nie.

Daar is vyf kategorieë van menslike uitwerking op varswater: oorontginning, waterbesoedeling (landbou, nywerhede, stedelik, farmaseuties), vloei-aanpassing, agteruitgang en vernietiging van habitats en indringerplantspesies. Daar is ook baie soort nuwe invloede, soos vinnigveranderende klimaat, toename in intensiteit van handel, opkoms van aansteeklike siektes, skadelike algopbloeiing, uitbreiding van hidro-elektriese krag, ontluikende smetstowwe, ingenieursontwerpe nanomateriale, mikroplastiese besoedeling, lig- en klankbesoedeling, varswaterontsouting, afname in kalsium en kumulatiewe invloede. Saam beskadig al hierdie invloede voedselnetwerke, en word dit al hoe moeiliker om te herstel.

Nog 'n uitdaging wat aangespreek moet word, is die verhouding tussen die verandering van die landskap en die invloed daarvan op waterbeweging en ekologiese prosesse, veral ten opsigte van die hoeveelheid en gehalte van afloopwater, watergehalte en verlies aan grond. Die topografie van die landskap en die ruimtelike verspreiding daarvan kan die afloopprosesse van reënwater verander. Watergehalte is terselfdertyd ook baie nou verwant aan die samestelling en ruimtelike patrone op hoë gebiede teenoor lae gebiede, wat die hoeveelheid sediment wat deur die lengte van 'n rivier loop.

Navorsing dui daarop dat die uitwerking van skadelike invloede van aanliggende grondgebruik op sediment en baie voedingstowwe sover as vier kilometer weg van strome af waargeneem kan word. Dit beteken dat die groter landskap en die biodiversiteit daarvan altyd in ons gedagtes moet wees, aangesien die algehele stelsel deur die dinamiese beweging van grondwater verbind word.

Een van die grootste bekommernisse is dat varswaterbiodiversiteit algeheel verarm en die ekostelsel verander weens die interaktiewe uitwerkings van habitat-agteruitgang en -verlies, die verlies van gespesialiseerde inheemse spesies en indringerspesies. Oor die algemeen is die resultaat dikwels nie soveel die verlies aan spesies nie, maar hulle plaasvervangers. Hierdie verandering veroorsaak 'n baie saaier en minder veerkragtige wêreld.

Ons kan sommige van die invloede duidelik sien, soos die verlies aan woude vir hout, in vergelyking met die uitwerking van besoedelende chemiese stowwe wat nie so sigbaar is nie, maar wydverspreid kan wees. Daar is sowat 100 000 chemiese samestellings wat ons daagliks gebruik wat varswaterstelsels kan binnedring. Hulle is nou verwant aan grondgebruik in opvangsgebiede wat deur intensiewe landbou- en/of stedelike aktiwiteite veroorsaak word. Tog weet ons so min van die chemiese risiko's wat baie van hierdie verbindings vir biodiversiteit kan inhou.

'n Pan-Europese studie van 4 000 terreine en 223 verbindings het getoon dat die verbindings wat die grootste invloed op klein waterskaaldiere het, verreweg plaagdoders is – op 87% van die terreine, gevolg deur polisikliese aromatiese koolwaterstowwe (chemiese stowwe wat in steenkool, ruolie en petrol gevind word), organotien verbindings (chemiese verbindings in hout- en tekstielpreserveermiddels, plastiek en aangroeiwerende verf) en broombehandelde brandvertragers, asook ander verbindings. Die betekenis hiervan is dat hierdie klein diertjies aan die onderpunt van die voedselketting vir so baie ander diere is.

Gegewe hierdie uitdagings, wat doen Suid-Afrika om sy varswaterbiodiversiteit te bewaar? Die Werk vir Water-program met die hoofdoel om aggressiewe indringerbom te verwyder, het sonder twyfel 'n reusebydrae gelewer. Hierdie indringerbome versmoor strome en riviere, blokkeer sonlig en maak die water en grondgebiede grootliks ongeskik vir baie plaaslike spesies. Die verwydering van die indringerbome bring die sonlig terug, wat weer die indringerspesies – hetsy plante of diere – in staat stel om op hulle eie terug te keer.

Ander beskermende maatreëls speel ook 'n belangrike rol. Die verantwoordelike sektor van die houtbedryf het groot bewaringsgange langs strome en riviere tussen plantasieblokke geskep. Hierdie gange word goed bestuur en laat baie plaaslike biodiversiteit toe om in hierdie gebiede te woon en om veerkragtig teen hierdie altyd-veranderende wêreld te wees.

Ten slotte is dit belangrik om te erken dat Suid-Afrika, wat 'n droë land is, meer as 'n halfmiljoen kunsmatige waterliggame het, wat meestal in die vorm van damme is. Wanneer hierdie watergebiede goed onderhou en bestuur word, lewer hulle 'n massiewe bydrae as toevlug vir 'n groot deel plaaslike biodiversiteit.

​*Michael Samways is emeritus-uitgelese professor in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie by die Universiteit Stellenbosch.