
Innoverende tegnologie kan help in stryd teen renosterstropery
Renosterstropery is 'n baie ernstige probleem in Suid-Afrika met meer as 1 000 renosters wat volgens die internasionale organisasie, Save the Rhino, per jaar vanaf 2013 tot 2017 doodgemaak is.
En hoewel teenstropingstrategieë bygedra het tot 'n effense afname in hierdie onwettige aktiwiteit, ondervind natuurbewaarders en ander toepaslike rolspelers steeds 'n tekort aan intydse data oor renostergedrag wat lewensnoodsaaklike inligting oor dreigende stropergevaar kan verskaf.
Só sê dr SP le Roux, wat onlangs sy doktorsgraad in Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het. Le Roux se studieleiers vir sy navorsing was prof Thomas Niesler en dr Riaan Wolhuter van die US se Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese. Hy het sy navorsing in die Digitale Seinprosesseringlaboratorium in dieselfde departement gedoen waar die projek nog steeds aan die gang is.
Le Roux, wat passievol is oor natuurbewaring en die gebruik van tegnologie en kunsmatige intelligensie om oplossings vir ons grootste uitdagings te vind, sê hy het gevoel daar bestaan 'n behoefte aan tegnologie wat natuurbewaarders kan help in hul stryd teen renosterstropery.
Hy voeg by dat aangesien geen teenstropingstrategie suksesvol op sy eie aangewend kan word om hierdie misdaad te bekamp nie, 'n verskeidenheid strategieë saamgevoeg moet word om 'n strategiese voorsprong te verkry.
As sy bydrae tot hierdie stryd, het Le Roux 'n outomatiese gedragsklassifikasiestelsel wat op die dier gedra word, ontwikkel om intydse inligting oor renostergedrag te verskaf en sodoende met teenstropingspogings te help.
Le Roux sê die gebruiklike tegnieke vir die klassifikasie van dieregedrag word vanlyn as 'n naprosesseringstap gedoen en verskaf nie intydse dataontleding nie.
“Om intydse ontleding moontlik te maak, moet data per radio-oorseining na 'n seinontvanger gestuur word en hierdie oorseining benodig energie. Weens die bronbeperkings van huidige biotelemetrie-toestelle, is gedragstudies tipies van korte duur wat net van dae tot weke wissel."
In teenstelling hiermee, is die stelsel wat Le Roux ontwikkel het, 'n intydse masjienleermodel ingebed binne-in die mikroverwerker van 'n biotelemetrie-plaatjie wat aan die dier vasgeheg is. Hy het hierdie plaatjies gebruik om inligting oor renosters in 'n private reservaat te bekom.
“Die plaatjie monitor die uitsette van 'n driedimensionele versnellingsmeter ('n instrument wat die versnelling van 'n bewegende of vibrerende liggaam meet), waarna dit die data voorverwerk, kenmerke onttrek en uiteindelik die sensordata in verskillende klasse van gedrag, soos byvoorbeeld staan, loop, hardloop, wei of lê, klassifiseer voordat dit die resultaat na 'n ontvangstoestel stuur.
“Die stelsel bepaal ook die dier se ligging deur middel van 'n globale navigasiestelsel (GPS) en wanneer dit met die gedragsinligting gekombineer word, word waardevolle insigte oor die dier se gedrag en waar die dier hierdie gedrag toon, verkry.
“Wanneer dit aan 'n renoster gekoppel word, verskaf die stelsel elke 6,5 sekondes bygewerkte inligting oor waar die renoster homself bevind en of dit staan, loop of lê."
Le Roux voeg by dat die insameling van sulke inligting oor lang tydperke die geleentheid vir die skets van tydgekoppelde hittekaarte van dieregedrag skep, byvoorbeeld oor waar hulle graag slaap, staan of loop.
“Dit sal ons in staat stel om buitengewone of abnormale gedrag te bespeur deur vrae soos 'waarom lê die renoster langer as gewoonlik – is dit beseer?', of 'hoekom loop dit skielik in 'n ongewone rigting, of hoekom hardloop die dier skielik?'
“'n Renoster se gedrag is 'n sleutelaanwyser van sy stresvlakke en intydse inligtingbywerkings kan as 'n vroeë waarskuwing van stropers dien."
Le Roux sê die biotelemetrie-plaatjies wat hy in sy navorsing gebruik het, is 'n verbetering op die vorige plaatjies danksy die gebruik van masjienleer om die groot hoeveelhede rou sensordata te verwerk en uiteindelik weg te gooi en dan net die dier se gedragtoestand en GPS-ligging te stuur.
“Die plaatjies het 'n verbeterde battery-leeftyd en gebruik ook 14 keer minder energie as gewone tegnieke, wat langtermynaanwending moontlik maak. Dit maak die ononderbroke versending van waarskynlik intydse gedrag moontlik, wat sodoende 'n uitgebreide vlak van inligting en onmiddellikheid verskaf."
Volgens Le Roux is die biotelemetrie-plaatjies wat hulle tans gebruik, klein en liggewig omdat dit aan die dier wat hulle wil dophou, vasgeheg moet kan word sonder om die dier seer te maak of ongemak te veroorsaak.
“Gevolglik moet die toestel deur 'n klein batterytjie aangedryf word wat die gebruik van ultra-laekrag-mikrokontroles noodsaak, wat beperkte verwerkingskrag en geheue het." Hy voeg by dat dit problematies kan wees wanneer navorsing oor dieregedrag oor lang tydperke gedoen word.
Hy sê sy gedragsklassifikasiestelsel kan waardevolle inligting aan natuurbewaarders, gedragsekoloë en boere verskaf.
“Die tegniek kan ook aangewend word vir algemene ingebedde masjienleer-toepassings wat in slimfone, slimhorlosies en sensors binne die internet van dinge gebruik word," meen hy.
- As deel van sy doktorale navorsing, het Le Roux ook die tegnologie gebruik om die gedrag van skape as staan, loop, wei, hardloop of lê te klassifiseer. Hy het bevind dit hou groot potensiaal in vir toepassing in presisie-boerdery.
Hooffoto: 'n Renoster met die toestel wat die biotelemetrie-plaatjie bevat.
Foto 1: Dr SP le Roux.
Skalel met prof Thomas Niesler van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese by tel 021 8084118, epos [email protected] vir meer inligting