
Ilse wil as rolmodel en mentor dien
Ilse Hayes – Maties Parasport-atleet, Paralimpiese kampioen en Stellenbosch-sportambassadeur – is in die pylvak van haar loopbaan en sou niks aan haar lewe verander nie.
Sy het 31 geword op die dag waarop die plaaslike Paralimpiese atlete na Johannesburg vertrek het om daar by die res van die SA Paralimpiese span aan te sluit voordat hulle op 31 Augustus na Rio de Janeiro vertrek het.
Dit sal (waarskynlik) haar laaste Paralimpiese Spele wees. Sy beoog om haar internasionale loopbaan ná die IPC Wêreldkampioenskapsbyeenkoms in 2017 wat in die Olimpiese stadion in Londen aangebied sal word, af te sluit.
Sy was 11 toe sy in 1996 met Stargardt se siekte gediagnoseer is, 'n toestand wat die sentrale visie en die vermoë om detail te sien, beïnvloed. Die gevaarligte het begin flikker toe Ilse, 'n kranige sportvrou en veral tennisspeler, nethoue begin mis het omdat sy nie meer die bal kon volg nie.
Sy het aan sport vir persone met gestremdhede begin deelneem en die res, soos hulle sê, is geskiedenis.
Sy het in 2001 aan haar eerste internasionale atletiekkompetisie deelgeneem en het van krag tot krag gegaan. Sy het onder meer vyf medaljes by drie verskillende Paralimpiese Spele gewen: brons in die 400m in Athene (2004), en goud in die verspring en silwer in die 100m in Beijing (2008) en Londen (2012).
"Parasport het oor die jare baie ontwikkel," sê sy. "Dit het baie meer professioneel geword, lande belê baie meer daarin en die publiek is meer ingelig."
"Die gees by veral die Paralimpiese spele is baie spesiaal. Almal wat daar is, het iets deurgemaak. Almal het iemand nodig."
Maar die pad van een Paralimpiese Spele na die volgende is nie sonder sy uitdagings nie.
Ná die hoogtepunt van Londen in 2012, waar Ilse haar Paralimpiese titel in die verspring verdedig het ondanks 'n geskeurde bobeenspier, was 2013 'n baie moeilike jaar. Sy is geteister deur beserings en moes hard werk om haar liggaam en gees te versterk. Sy het verspring opgegee en besluit om te fokus op haar baanitems – die 100m en die 200m. Sy het ook haar werk by 'n sportgemeenskapsprojek bedank om haarself vir oulaas ten volle op haar sport te kan toespits.
Sy het 2015 afgeskop met 'n nuwe Afrika-rekord in die 200m en dit opgevolg met 'n wêreldrekord in the 100m in die T13-klas. Sy moes egter in September weens 'n besering aan 'n vertoonwedloop in Rio de Janeiro, asook die Afrika Spele, onttrek. Haar rehabilitasie en voorbereiding het gefokus op die IPC Wêreldkampioenskap in Doha in Oktober waar sy uitstekend presteer het deur goud in die 100m en 200m te wen.
"Die Wêreldkampioenskap was 'n uitdaging. Ek het twee goue medaljes gewen, maar my tye was nie goed nie."
Ilse moes vanjaar haar fokus van die 200m na die 400m verskuif, aangesien die 200m-item nie in die T13-klas by Rio aangebied word nie.
Dit is moeilik om op die hoogste vlak mee te ding.
"Jy kan nooit op jou louere rus nie. 'n Nuwe mededinger kan van nêrens kom en jou verras. Jy kan net daarop fokus om jou beste te doen."
Haar man, Cassie Carstens, sal in Brasilië wees om haar aan te moedig, sowel as haar afrigter, dr Suzanne Ferreira van die Universiteit Stellenbosch se Departement Sportwetenskap, en haar oefenmaats Arnu Fourie, Fanie van der Merwe, Anruné Liebenberg, Dyan Buis en Charl du Toit.
Ilse beskryf haar ondersteuningsgroep as 'n hegte gesin – hulle dra by tot die postiewe ervaring van sukses, maar dra mekaar ook deur tye van besering of teëspoed.
Sy dien al baie jare as inspirasie vir ander en het al op verskeie wyses erkenning ontvang: Die Orde van Ikhamanga: silwer is in 2013 aan haar toegeken en sy is ook by die Mail & Guardian se lys van "200 young South Africans" – wat erkenning gee aan invloedryke Suid-Afrikaners jonger as 35 jaar – ingesluit.
"Ek sal my lewe vir niks verruil nie. Die Here het hierdie omstandighede oor my pad gebring en dit is my verantwoordelikheid om my talent en geleenthede te volle te benut. Ek beskou dit as 'n platform om 'n rolmodel te wees en mense te inspireer en hoop te gee," sê sy.
Ná die Wêreldkampioenskap in 2017 sal Ilse graag as mentor vir ander atlete wil dien. Sy sien ook uit daarna om meer tyd saam met haar man te bestee, wat baie opofferings gemaak het om haar by te staan in haar loopbaan.
Fotokrediet: Peartree Photography