
Hoë-gehalte mentorskap bemagtig vroue in ingenieurswese
Die Internasionale Dag vir Vroue in Ingenieurswese is Vrydag 23 Junie gevier. In ʼn meningsartikel vir News24, het drr Karen Garner & Chantelle (Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese) geskryf dat hoë-gehalte mentorskap vroue wat tot die ingenieursberoep toetree help om in hulle loopbaan te vorder.
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Karen Garner & Chantelle van Staden*
Om by 'n nuwe werkplek in te stap – veral vars uit universiteit – kan 'n skrikwekkende ervaring wees. Afgesien daarvan om op die toepassing van teoretiese konsepte en praktyke op werklike probleme te fokus, moet die splinternuwe werknemer ook hulle plek binne die kultuur van die organisasie vind.
Spanne en departemente het 'n goedgevestigde kultuur met sekere waardes wat oor die algemeen aanklank vind by die visie van die organisasie. Dit is nodig om by daardie kultuur in te pas ten einde spanwerk, samewerking en produktiwiteit te bevorder. Dit is ook belangrik vir die werknemer se welstand en werksbevrediging. Daarom speel mentors so 'n uiters belangrike rol om leiding aan nuwe werknemers te gee.
Mentorskap is nie net belangrik vir tegniese leer nie, maar ook om die kultuur, dinamika en politiek van die span te verstaan en te bestuur. 'n Goeie mentor help 'n werknemer om hulle professionele netwerk te bou en om die interpersoonlike ingewikkeldhede van hulle pos te bestuur. In die ingenieursberoep veral kan hoë-gehalte mentorskap vroulike werknemers help om hulle loopbaan te vestig en te bevorder.
Wanneer ons op 23 Junie Internasionale Dag vir Vroue in Ingenieurswese vier, moet ons nie vergeet dat ingenieurswerkplekke histories hoofsaaklik uit mans bestaan het nie. Dit het die verkeerde persepsie geskep het dat ingenieurswese 'n gebied is waarin hoofsaaklik mans sukses behaal. Oor die verloop van verskeie dekades het 'n kultuur wat ingebed is hierdie persepsie, posgevat. Dit dien as 'n hindernis vir vroue wat tot die ingenieursberoep wil toetree. Om hierdie hindernisse te oorkom, is dit noodsaaklik om toegewyde mentors te hê wat passievol is oor die kweek van 'n inklusiewer werkomgewing. Namate persepsies begin verander, sal die ingenieurswesesektor as 'n geheel positiewe transformasie begin ervaar wat tot voordeel van alle betrokkenes strek.
Hoewel mentorskap 'n uiters belangrike rol in die professionele ontwikkeling van alle ingenieurs speel, is dit veral waardevol vir vroulike ingenieurs. Die afwesigheid van doeltreffende mentorskap is as een van die belangrikste faktore geïdentifiseer wat ervare vroue-ingenieurs laat besluit om die beroep te verlaat. Sonder 'n mentor om leiding te gee en as kampvegter op te tree, vind talle vroue dit baie uitdagend om die ingewikkeldhede van spankultuur en -dinamika te bestuur, veral in omgewings wat deur mans oorheers word.
Ten slotte …
Hoë-gehalte mentorskap bly uiters belangrik vir vroue wat tot die ingenieursberoep toetree. Een werknemer het die volgende opgemerk: “ Ek het as 'n pasafgestudeerde ingenieur tot die werksmag toegetree en ek het 'n wonderlike senior ingenieur as mentor gevind wat werklik my sukses by die maatskappy aangevuur het. Ek het gevoel dat om van die begin af 'n goeie manlike mentor te hê wat werklik wou hê ek moet suksesvol wees, my gehelp het om enige geslagsgebaseerde hindernisse te oorkom. Dit het my in staat gestel om die ruimte te bestuur en in my werksomgewing te floreer."
Verder is dit noodsaaklik om meer vroue in die ingenieurswese aan te moedig om as mentors op te tree. Vroue word voortgedryf deur die begeerte om 'n sinvolle invloed te hê en waarde toe te voeg. Dit is meer waarskynlik vir vroue om aktief aan inisiatiewe deel te neem wat daarop gerig is om vroulike verteenwoordiging binne die vakgebied te verhoof. Baie geleenthede wat ten doel het om jongmeisies en tieners aan te moedig om beroepe in die ingenieurswese te oorweeg, word deur vroulike ingenieurs gereël. Dit plaas 'n aansienlike las op senior vroulike ingenieurs, maar hulle betrokkenheid is van deurslaggewende belang om geslagsgelykheid binne die ingenieursbedryf te kweek.
Daarby is dit ook uiters belangrik dat spanne en organisasies sal besef dat vroulike ingenieurs van hulle tyd aan hierdie inisiatiewe sal wy and hulle moet sensitief wees vir hierdie onderneming. Die ingenieursbedryf het nog 'n lang pad om te stap om geslagsgelykheid te bereik. Betekenisvolle veranderinge sal net plaasvind indien die regte mense die saak voorstaan.
- Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees.
Foto deur ThisisEngineering RAEng by Unsplash.
*Drr Karen Garner & Chantelle van Staden is akademici in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.