
Het MIV/vigs nog 'n plek op die globale polikrisis-agenda?
Geopolitieke spanning, klimaatsverandering, skuldkrisisse, die verlies van biodiversiteit, toenemende maatskaplike ongelykhede – ons leef in 'n tyd waar veelvuldige en oorvleuelende uitdagings optrede en hulpbronne vereis. Wat beteken hierdie komplekse agenda vir langdurige kwessies soos globale MIV/vigs-teikens? Vroeër vandeesmaand het akademici en ander belanghebbendes op die gebied van gesondheidsbestuur 'n paneelbespreking gehou oor die ontluikende uitdagings en geleenthede wat verband hou met die bestuur van MIV/vigs in Afrika in die konteks van hierdie wêreldwye polikrisis. Hulle het saamgestem dat daar duidelike riglyne vir 'n Afrika-gesentreerde benadering moet wees.
'n Nuwe era bring nuwe uitdagings ─ en geleenthede
Die mees direkte impak van die globale polikrisis op MIV/vigs is die herverdeling van befondsing en hulpbronne weens ander prioriteite, maar dis 'n ingewikkelde kwessie met talle fyn nuanses. Dr. Susan Langmagne van die Departement van Sosiologie aan Universiteit van Ghana was die moderator van die sessie en het verwys na die ontwikkeling van vorige pandemies: “In elke geval het wetenskap, lewensomstandighede en sosiopolitieke kontekste 'n rol gespeel in die opsporing, beheer en beëindiging van pandemies. Hierdie faktore het almal óf meer ingewikkeld geword óf nuwe vorms aangeneem."
'n Prominente voorbeeld is die toenemende ongelykheid wat gesien kan word in wydverspreide armoede, werkloosheid en swakker ekonomiese toestande wat regerings se gesondheidsverwante bestedingsvermoë beperk. Sosio-ekonomiese faktore oor die algemeen belemmer MIV-weerstand, en Langmagne het genoem dat biomediese en gedragsintervensies dikwels voorkeur kry bo strukturele en bemagtigingsintervensies.
Dr. Munya Saruchera, interim-direkteur van die US se Afrika Sentrum vir MIV/vigsbestuur, het ook 'n sessie aangebied en bygevoeg dat die volgende paar jaar nóg krisisse sal oplewer, soos kubermisdaad en grootskaalse gedwonge migrasie. Die ander paneellede was prof. Adobea Yaa Owusu van ISSER (Institute of Statistical, Social and Economy Research) aan die Universiteit van Ghana, en prof. Eric Tenkorang van die Division of Community Health and Humanities aan die Memorial Universiteit van Kanada.
Die globale polikrisis bied ook geleenthede aan MIV/vigs-betrokkenes, soos groter samewerking met die oog op streeksgesondheidsnavorsing. Volgens Saruchera is daar potensiaal vir 'n geïntegreerde benadering tot MIV/vigs wat kyk hoe dit as't ware met ander krisisse kan saamwerk. Langmagne glo dit is 'n kans om nuut te dink deur byvoorbeeld die digitalisering van gesondheidstelsels te versnel sodat daar beter gesondheidsdekking sal wees, asook 'n oordrag van tegnologie van die globale noorde na die globale suide.
Afrika moet op eie bene staan
Die belangrikheid daarvan dat Afrika-lande minder afhanklik moet wees van die globale noorde – veral gesondheidsinfrastruktuur betref – het na vore gekom as 'n bepalende faktor in die vasteland se vermoë om MIV/vigs te oorkom. Dit kan gedoen word deur inheemse kennis in gesondheidsorgstelsels te inkorporeer, groter samewerking en kennisuitruiling tussen Afrika-lande, asook intensiewe navorsing oor die faktore wat gesondheid en welstand in 'n Afrika-konteks beskerm, bevorder of handhaaf. Die rol van van gemeenskapsorganisasies en gemeenskapsgesondheidsaktiwiteite is deurslaggewend in dié verband.
Die onderwerp van die onderbeklemtoning van MIV/vigs en ander krisisse in die konteks van beperkte hulpbronne het tot interessante sienings gelei. Die kernfaktor is uiteenlopende prioriteite. Saruchera meen dit help nie veel om die kwessies te oorbeklemtoon nie. “Hoe kan ons krisesse priritiseer of vergelyk? Dis tyd vir alternatiewe benaderings om die uitdagings van die polikrisis-era aan te pak, byvoorbeeld 'n fokus op planeetgesondheid."
Oor die algemeen sal dieper navorsing, groter samewerking en 'n pasgemaakte benadering wat op Afrika fokus deurslaggewend wees om MIV/vigs in die toekoms suksesvol te bestuur. Sommige van die paneellede ondersoek reeds samewerking op die gebiede van onderrig, navorsing en publisering. Langmagne en Saruchera sal op 4 Desember 'n uitgebreide weergawe van die paneelbespreking by die ICASA-konferensie oor MIV/vigs en seksueel oordraagbare infeksies aanbied om verdere besprekings oor toepaslike optrede aan te moedig.
* Prof. Owusu sal een van die sprekers wees by die Wêreldvigsdag-funksie wat die Teologie-fakulteit, die Departement van Globale Gesondheid en die Afrika Sentrum vir MIV/vigsbestuur op 28 en 29 November by die Teologie-fakulteit aanbied.