
Herwinning tel
Die Universiteit Stellenbosch is baie trots op die herwinningstatistiek by die verskillende kampusse. Op hierdie stadium word meer as 80% van al die algemene afval op die Stellenbosch-, Tygerberg- en Bellville Park-kampus vir herwinning gesorteer terwyl 70% in werklikheid herwin word. Dit beteken minder afval beland in grondopvulterreine wat help om ons universiteit meer omgewingsvriendelik en volhoubaar te maak.
Hoe doen die US dit? 'n Groot deel van ons herwinningsukses kan aan die driedromstelsel op kampus toegeskryf word, waarvolgens alle afval in die volgende kategorieë verdeel word:
- Herwinbare afval (plastiek, papier, karton, glas, blikkies, ens.)
- Kos/kompos
- Nie-herwinbare afval
Herwinbare afval
Al die koshuise op ons Stellenbosch- en Tygerberg-kampus het een drom per student vir herwinbare items, asook 'n driedromstelsel in areas wat gedeel word vir herwinbare items, kos en nie-herwinbare items. Herwinbare items word by koshuise opgelaai, in deursigtige sakke gesit en by die Kraaifontein- geïntegreerde afvalbestuursfasiliteit vir sortering en herwinning afgelewer.
Kos/kompos
Dit sluit in vrugte- en groenteskille, teesakkies, koffiemoer, brood en stukke oorskietkos. Alle afval van hierdie aard word by die Universiteit se kombuise en kafeterias opgelaai. Dit word dan met Bokashi-poeier behandel, gefermenteer en by 'n komposaanleg weggedoen waar dit tot kompos verwerk word, wat in die Universiteit se tuine gebruik word.
Nie-herwinbare afval
Items soos sneesdoekies, kleefplastiek, aartappelskyfiepakkies met foelie binne en verpakking waarin kos was, is nie herwinbaar nie en word dus na grondopvulterreine gestuur. Die US se Afdeling Fasiliteitsbestuur doen 'n beroep op alle personeel en studente om te probeer om hierdie tipe afval so min as moontlik te maak deur verstandig te koop. Vir oulike koopwenke, klik hier.