Skip to main content
​Herbedink Matie-identiteit 2016 om identiteit op US kampus te verken

​Herbedink Matie-identiteit 2016 om identiteit op US kampus te verken

Marcelle van Niekerk
04 Augustus 2016

'n Week van eerstes, films en dialoog met die doel om alternatiewe maniere te vind om oor identiteit aan die Universiteit Stellenbosch (US) te dink, vind hierdie week (8 tot 12 Augustus) plaas. Die eerste Matie-identiteitsweek, met die tema "Herbedink Matie-identiteit" ("Reimagine Matie Identity"), bied personeel en studente die geleentheid om oor die veelsydige en oorvleuelende aspekte van menslike identiteit, waaronder ras, etnisiteit, seksualiteit en gender, te besin.

 

Die program het op 8 Augustus afgeskop met 'n praatjie deur joernalis en aktivis Zubeida Jaffer. Sy het aan studente en personeel vertel hoe haar idees rondom identiteit verskeie veranderinge ondergaan het gedurende haar werk- en lewenservaringe. Haar praatjie vorm deel van die natalatenskapsverhale (oftewel Legacy Stories), wat ten doel stel om elke individu aan te spoor om oor sy eie, persoonlike identiteit te besin. Die Frederik Van Zyl Slabbert (FVZS) Instituut vir Leierskapsontwikkeling, het hierdie gedeelte van die program geïnisieer.  

"Die president van Columbia University het onlangs gesê, 'die enigste manier om te leer is om gekonfronteer te word deur mense wie baie van jou verskil'. Maak nie saak waar ek is nie, ek probeer om die taal en mense te verstaan," sê sy. "Maar ons klou te veel vas aan klassifikasies – ons is almal maar net mense."

Ander storievertellers en fasiliteerders wie praatjies sal gee gedurende die week, sluit in die Rektor en Visekanselier Prof Wim de Villiers en Slabbert se dogter, Tania Slabbert.

"Ek dink dit is noodsaaklik," het Jaffer oor die program gesê. "Op universiteit worstel jy met wie jy is. Dit behoort openlik en deurlopend bespreek te word, dat mense kan sien daar is vele maniere om na identiteit te kyk. Dit is fantasties – jy kan aan almal behoort en enige plek inpas, as jy wil."

Nog praatjies sal dwarsdeur die week plaasvind om dialoog aan te moedig, waaronder gesprekke oor "queer"-identiteit in Afrika.

"Ek dink die Universiteit Stellenbosch is besig om te verander, en die Universiteitsgemeenskap identifiseer met hierdie plek in baie verskillende maniere. Ons wil ou idees van wat dit beteken om 'n Matie te wees, uitdaag," sê Faith Pienaar, Programkoördineerder van die US Transformasiekantoor. "Die tipe mense wat hier kom studeer is baie anders as wat dit twintig jaar gelede was. Die projek wil daardie verandering reflekteer, en wil gesprekke oor die verskillende aspekte van identiteit begin. Ek sien baie uit na die impak wat die program kan hê. Ons wil die kampus laat besin oor wat dit beteken om in Stellenbosch te bly."

Onder meer behels die week die vertoning van 'n aantal Suid-Afrikaanse rolprente om gesprekvoering oor taal, demokrasie en verandering aan te moedig. Filmvertonings vind in die Pulp-teater plaas.

"Ons wil die manier hoe mense met mekaar in gesprek tree verander. Ons wil hulle uitdaag om kuns, musiek en films as hulpbronne te gebruik om gesprekke en dialoog te bevorder," voeg Pienaar by. "Die doel is ook om 'n impak te hê op hoe nuwe studente en personeellede verwelkom word by die Universiteit."

Op Woensdag 10 Augustus geniet studente 'n Matie-middagete wat vermaak, musiek en kuns insluit. Etes sal in koshuise en, vir privaat studente, in oop eetsale aangebied word. Eetsale sluit in Harmonie, Metanoia, Simonsberg, Huis Marais, Tinie Louw, Irene en Huis ten Bosch. 'n Beperkte aantal koepons sal Woensdag om 12:00 aan privaat studente uitgedeel word om 'n maaltyd kan geniet in die Neelsie by die Identity Café ("Identiteitskafee"). Die Identity Café, soos die Vroueverenigingsaal op die boonste verdieping van die Neelsie-studentesentrum vir die week bekend sal staan, is die hoof-venue vir die week.

Met die oog op Vrouemaand het die Studenteraadsportefeulje vir vrouebemagtiging 'n foto-uitstalling getiteld Hidden Womxn of Matieland saamgestel. Dit is vir die week te sien in die Identiteitskafee, en bied visueel die onvertelde verhale van vroue wat in en om die US werk, uit. Die skrywer en storieverteller Panashe Chigumadzi sal op Vrydag 12 Augustus 'n praatjie aanbied om Vrouedag te vier. Chigumadzi is die skrywer van Sweet Medicine en was in 2015 die ontvanger van die Ruth First-genootskap.

Matie-identiteitsweek word aangebied in samewerking met die Transformasiekantoor, die Studenteraad, die Eenheid vir Gelykwaardigheid, die Departement Visuele Kunste, die FVZS Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling, en die Luister-, Leef- en Leerinisiatief.

"Samewerking is die beste manier om 'n klomp perspektiewe oor kwessies te kry," is Pienaar se gevolgtrekking. "Dit maak ons werk ryker en meer betekenisvol. Hopelik kan ons nóg meer fakulteite en personeel volgende jaar betrek!"

Matie Identity Week Programme.jpg