Skip to main content
Groot ‘eindstryd’ vir Steinhoff Maties in WP Groot Uitdaagliga

Groot ‘eindstryd’ vir Steinhoff Maties in WP Groot Uitdaagliga

Maties Hockey / Maties Hokkie
22 Augustus 2016

Sowel die Steinhoff Maties Hokkie-mans as -vroue sal Saterdag vir algehele glorie in die Westelike Provinsie Groot Uitdaagliga (WPGC) speel.

Volgens die nuwe formaat van die WPGC speel die top4-spanne ná die eerste ronde weer teen mekaar in 'n tweede ronde van wedstryde.

Maties speel teen die WPCC om die wenner van die liga te bepaal. Albei Matiespanne is ook die verdedigende kampioen. Indien die mans daarin slaag om met die onoorwonne WPCC af te reken, sal dit dit eerste keer sedert 2009 wees dat hulle sowel die USSA- as die WPGC-titel wen.

Maties se vrouespan speel om 15:00 en die mans om 18:00. Alle wedstryde is by Hartleyvale.

Die afgelope naweek het die Maties Hokkie-vrouespan met 2-2 gelykop gespeel teen Somerset-Wes, terwyl Maties Hokkie se mansspan 5-2 met Vishoek afgereken het.

Edwin Reed het in sy debuut vir Maties 'n doel aangeteken. Shannon Boucher, Daniel Bell, Luke Schooling en Keenan Horne het ook die doelhok laat raas. Dit was Bell se laaste wedstryd van die seisoen vir Maties voor hy in België klubhokkie gaan speel. Hy hoop om volgende seisoen weer vir Maties te speel. Die komende naweek sal die laaste keer wees wat Dylan Swanepoel die Maties op die veld lei, terwyl Boucher ook sy laaste wedstryd sal speel.

Die mede-kaptein van die vrouespan, Quanita Bobbs, het albei doele vir haar span aangeteken.