
Goeie vordering met navorsing, innovasie en nagraadse studie
Prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, het in Maart 2017 omvattend verslag gedoen aan die Senaat oor sy verantwoordelikheidsentrum. Hieronder volg uittreksels uit die bestuursopsomming van sy verslag, wat om die doelwitte in sy portefeulje gestruktureer is.
Jong akademiese sterre
Die aanstelling van jong akademici, met die klem daarop om personeellede in uitnemende navorsers te ontwikkel, is geruime tyd reeds 'n prioriteit vir die Universiteit Stellenbosch (US) om die uitdaging van 'n verouderende produktiewe wetenskaplike gemeenskap die hoof te bied. Die uitbreiding van die program vir nadoktorale genote is 'n strategiese intervensie in hierdie verband om 'n grondige kundigheidsbasis vir die toekoms te verseker. Weens hierdie fokus het die getal nadoktorale genote van 168 in 2012 tot 308 in 2016 toegeneem, soos die figuur hieronder toon:
Figuur 1: Nadoktorale genote, 2012 tot 2016
Gegradeerde wetenskaplikes
Die US beskik oor die tweede meeste NNS- (Nasionale Navorsingstigting-)gegradeerde wetenskaplikes in die land, onder meer 13 A-gegradeerde navorsers wat as wêreldleiers op hul onderskeie gebiede beskou word. Die getal NNS-gegradeerde akademici het van 306 in 2012 tot 427 in 2016 toegeneem, soos uit die figuur hieronder blyk:
Figuur 2: NNS-gegradeerde navorsers, 2012-2016
Nagraadse studentesukses
Die statistieke in verband met nagraadse studentesukses spreek vanself:
- Rekordgetal magistergrade (1 378) toegeken in 2016
- Rekordgetal doktorsgrade (277) toegeken in 2016
- Toename in nagraadse studentebeurse van R115 miljoen in 2012 tot R221 miljoen in 2016
- Landwyd die hoogste behoud- en suksessyfer van doktorale studente
- 48% van die nagraadse studentekohort is BSI-studente
- 19% van die nagraadse studentekohort is internasionaal
Die uitbreiding van navorsingsinnovasie
Wat innovasie betref, val die klem op die skep van nuwe produkte en dienste wat tot ekonomiese en/of maatskaplike verbetering in die land kan lei. Die US is sedert 2015 die leier met betrekking tot die getal aansoeke wat ingevolge die Patentsamewerkingsverdrag (PCT) ingedien word. Innovus, die US-maatskappy wat die kommersialisering van die Universiteit se portefeulje innovasie en intellektuele goedere bestuur, vervul 'n kernrol in hierdie verband.
Figuur 3: PCT-aansoeke 2009-2016
Nuwe navorsingsentiteite en -fokusgebiede
Staatsfinansiering van universiteite is aan die afneem. Om die druk op die menslikehulpbronbegroting te verlig, moet alternatiewe maniere gevind word om ons personeelkomponent te finansier. 'n Volhoubare manier om dít te doen, is om die gesubsidieerde navorsingsleerstoelprogram uit te brei, soos die tabel hieronder aandui:
2013 | 2014 | 2015 | 2016 | |
SARChI-leerstoele | 18 | 19 | 24 | 24 |
Nywerheidsleerstoele | 5 | 9 | 11 | 17 |
TOTAAL | 23 | 28 | 35 | 41 |
Tabel 1: Geborgde navorsingsleerstoele
Die US beskik nou oor 41 geborgde navorsingsleerstoele, waaronder ses nuwe leerstoele wat in 2016 bygevoeg is.
"Die vordering wat in hierdie portefeulje gemaak word, dra beduidend daartoe by om die US 'n innoverende hoëronderwysinstelling te maak deur die handhawing van die momentum van uitnemendheid," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, in sy bestuursverslag aan die Senaat gesê.