Skip to main content
Gewilde Straatmyl kroon môre nuwe kampioen

Gewilde Straatmyl kroon môre nuwe kampioen

Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
07 Maart 2017

Die Eikestad se gewilde STRAATMYLFEES wat vanjaar reeds vir die sewende keer aangebied word, kroon môre ʼn nuwe kampioen. Die verdedigende kampioen en Olimpiese atleet Johan Cronjé kan weens ʼn operasie nie vanjaar sy titel verdedig nie en ʼn paar opkomende atlete sal sake môre in Stellenbosch uitspook.

Dié unieke wedloop in die boomryke Victoriastraat in Stellenbosch vind op Woensdag 8 Maart 2017 om 18:00 plaas en vorm weer deel van die Universiteit Stellenbosch (US) Woordfees.

Die Straatmylfees spog vanjaar met sy eie unieke logo en medaljes. ʼn Spesiale wisseltrofee vir die droommyl is vanjaar vir die eerste keer op die spel. Atlete wat ʼn droommyl hardloop se name word op ʼn koperplaatjie op die trofee aangebring. 

Die eerste Dagbreek Straatmyl is in 2011 ter ere van Oud-Matie De Villiers Lamprechts aangebied – die eerste Suid-Afrikaanse atleet om ʼn droommyl (die myl in onder 4 minute) te hardloop. Dié is op 13 November 1964 op Coetzenburg in Stellenbosch vermag.

Cronje het die wedloop al drie keer gewen en het in 2015 die eerste Victoriastraat droommyl gehardloop. Verlede jaar se naaswenner, die Matie Llewellyn Groeneveld, word as ʼn gunsteling beskou, terwyl Duwayne Philandering ook ʼn sterk aanspraakmaker is met beste tyd van 4.04. Hy spog met ʼn beste tyd van 4.04 wat hy in Desember by die Straatmyl in Oudtshoorn opgestel het. Die wedloop vorm deel van die Eden-reeks wat ook in Mosselbaai en Hartenbos gehardloop word. Hy het aan die SA Senior Kampioenskappe in die 5000m asook in die SA Landloop Kampioenskappe en die SA o23 kampioenskappe deelgeneem. Dit sal sy eerste Dagbreek straatmyl wees. 

Zaid Williams, wenner van verlede jaar se seuns o19 wedloop, is vanjaar terug, maar tree aan in die elite wedloop. Nog ʼn nuweling is Lukhanyo Ndobaka met ʼn beste myl van 4:25. Hy het ook deelgeneem aan die SA Junior atletiek kampioenskappe in die 5000m en 10 000m en SA Landloop Kampioenskappe. Heinrich Wagner is nog ʼn atleet wat aan Oudtshoorn-Straatmyl deelgeneem het. Hy spog met ʼn beste tyd van 4:14.

Kategorieë

Verskeie wedlope word weer aangebied: mans, vroue, skole (seuns en dogters o15 en o19) en elite terwyl die opwindende skaatsplankresies ook weer op die program is.

"Verlede jaar was ʼn droommyl nie een van die atlete beskore nie, maar ʼn "droommyl" is wel in die skaatsplank afdeling behaal," vertel mnr Francois Fouche, organiseerder van die Straatmylfees. "Dié wedren is verlede jaar vir die eerste keer aangebied en is sovêr bekend die enigste straatmyl vir skaatsplanke in Suid-Afrika. Die wenner was Walter Barlou in ʼn tyd van 3:41.41. Skaatsplankry het verlede jaar Olimpiese status verwerf en sal in 2020 vir die eerste keer by die Somer Olimpiese Spele in Tokyo aangebied word."

Tussen die wedlope word musiek verskaf vir ʼn feestelike atmosfeer en daar is optredes deur die 12 jarige sangsensasie Dirja Lekas. Sy was die wenner van die Young Divas Unite kompetisie in 2016.

Vanjaar is daar ʼn volle R30 000 se pryse op die spel sowel as ʼn gelukstrekking. Die eerste 10 atlete in elke wedloop ontvang medaljes en die eerste 30 atlete in die ope mans en vroue-kategorieë. Die inskrywingsfooi is R30.

Borge sluit in Puma, PNA, Asla, die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-verhoudinge, Eikestadnuus en Submerged Industrial. Coke verskaf die verversings.