
Gestremdheidstudies kan diskriminasie teen persone wat hakkel help beëindig
Om te hakkel kan verlammend en frustrerend wees. Dit is iets wat dr Dane Isaacs maar al te goed weet. As iemand wat self hakkel, moes hy verskeie hindernisse oorkom en moes hy sy hele lewe lank nog onderdrukking en diskriminasie hanteer.
“Om as 'n hakkelaar groot te word, is nie die maklikste ervaring nie. Ek is afgeknou, teen gediskrimineer en moes verskeie sosiale en sielkundige uitdagings deurmaak," vertel Isaacs.
“My gehakkel het ook 'n negatiewe uitwerking op my manlike identiteit gehad. As 'n man wat hakkel, het ek al dikwels swak en ontman gevoel en nie in staat om aan die samelewing se verwagting van wat dit beteken om 'n man te wees, te voldoen nie. Hierdie ervarings het my altyd laat wonder oor die stremmende en manlikheidservaring van mense wat hakkel."
Ondanks hierdie uitdagings, het Isaacs, 'n navorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, daarin geslaag om die toppunt van akademiese sukses te bereik toe hy onlangs sy doktorsgraad in Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal het. Sy navorsingstudie het die stremmende en manlikheidservaring van jong volwasse mans wat hakkel, ondersoek.
As deel van sy navorsing het Isaacs sy eie ervaring van diskriminasie, onderdrukking en ongeskiktheid by die kerk, skool, universiteit en in die werkplek (outo-etnografie) beskryf. Hy het ook onderhoude gevoer en fokusgroepbesprekings gehou met jong volwasse mans (tussen die ouderdom van 20–39 jaar) van Kaapstad en Stellenbosch wat hakkel om meer te wete te kom oor hul stremmende en manlikheidservarings.
Kwesbaar
Isaacs sê sy bevindinge toon dat hierdie mans hoofsaaklik op hegemoniese of dominante norms en praktyke van manlikheid staatgemaak het om hul eie manlike identiteite te vorm.
“Vir hulle het man-wees tipies 'n posisie van mag of beheer, om die voorsiener en heteroseksueel te wees en om fisieke krag uit te oefen, behels. Vir verskeie mans was hakkel heeltemal teenstrydig met wat dit beteken om 'n man te wees. Die uitoefening van beheer oor spraak het vir hulle manlikheid beteken.
“Die gevolg was dat hulle deurgaans 'n laer selfbeeld en minder selfvertroue gehad het en dat hulle, as mans wat hakkel, swak, kwesbaar, ontman en skaam gevoel het.
“Vir sommige het hul gemarginaliseerde posisies as mans wat hakkel, hulle aangespoor om beheer oor hul hakkel te kry en om hul vertoning van hegemoniese manlikheid te verbeter. Vir ander het die gemarginaliseerde posisie van hakkel tot gevolg gehad dat hulle dominante idees van manlikheid verwerp het en toe manlike identiteite waarvolgens hul hakkel aanvaar word, geskep het."
Isaacs voeg by dat sommige van die mans (studente wat erg gehakkel het) geglo het dit is 'n gestremdheid om te hakkel. “Hulle het ervarings van ontmanning, ongeskiktheid en onderdrukking gedeel en was groot voorstanders vir die gestremdheidsregte van mense wat hakkel."
Hy sê hoewel professionele jongmense saamgestem het dat hakkel 'n gestremdheid is, hulle nie hulself as gestremde mans beskou het nie.
“Interessant genoeg het sommige van hierdie mans aangedui dat hulle vroeër in hul lewe weens hul hakkel gestremd was. Die feit dat hulle egter beheer oor hul hakkel kon uitoefen en sukses in hul loopbane kon behaal, het hulle in staat gestel om die identiteit van 'n gestremde man te verwerp – iets wat hulle tipies met swakheid en kwesbaarheid geassosieer het.
“Hulle het ook die idee van voorspraak vir die redelike tegemoetkoming in die werkplek vir mense wat hakkel, verwerp."
Isaacs noem ook dat sommige mans die idee van hakkel as 'n gestremdheid heeltemal verwerp het en het dit eerder gesien as is 'n ontwikkelingsspraakverstoring wat met behoorlike tegnieke beheer kan word.
Volgens hom blaas drie goed die diskriminasie en onderrukking wat hierdie mans en ander mense wat hakkel, ervaar, aan.
“Eerstens, is dit onkunde en mites oor hakkel. Tweedens is dit die oorheersende siening van hakkel as 'n spraakproduksieverstoring wat reggestel, bestuur of beheer kan word. Deur hakkel op hierdie manier te beskou, word die verantwoordelikheid van hakkel heeltemal op die persoon wat hakkel geplaas, terwyl die samelewing se rol in die onderdrukking en diskriminasie heeltemal weggesteek en onaangespreek bly. Derdens diskrimineer mense wat hakkel ook teen mekaar en onderdruk hulle mekaar. Wanneer mense wat hakkel die identiteit van 'n person met 'n gestremdheid verwerp, is hulle ook huiwerig om kampvegters te word vir die gestremdheidsregte van ander soos hulle en om die uitdagings wat hulle moet oorkom, aan te spreek," verduidelik hy.
Ondersteuning
Isaacs sê meer moet gedoen word om mense wat hakkel te ondersteun. Hulle moenie bloot net geakkommodeer word nie, maar moet as waardevolle lede van die samelewing behandel word.
“Hoewel daar verenigings en ondersteunings- en selfhelpgroepe bestaan met die doel om mense wat hakkel se volle deelname in alle sfere van die samelewing te verseker, fokus baie van hierdie organisasies hoofsaaklik op die herstel, bestuur of beheer van hakkel, eerder as om die kwessies van gestremdheid, diskriminasie en onderdrukking aan te spreek.
“Ons moet beleide ontwerp wat die behoeftes en gestremdheidsregte van mense wat hakkel, bevorder en wat hulle toelaat om ten volle in opvoedkundige ruimtes (skole, universiteite) en die werkplek deel te neem, aangesien dit van die mees onderdrukkende en verlammende plekke vir hulle kan wees. Hulle moet ook geraadpleeg word oor die ontwerp van beleide, programme, kursusse en kurrikula wat ten doel het om hul volle deelname te verseker.
Isaacs voeg ook by dat 'n gestremdheidstudiebenadering deel van spraakterapie moet word.
“Ek glo dat mense wat hakkel, net ten volle sal kan deelneem indien hakkel deur 'n gestremdheidstudielens benader word. Hierdie benadering sal die aandag op die sosiale en politieke aspekte van hakkel vestig, wat belangrik is om die onderdrukking, ongeskiktheidstelling en diskriminasie aan te spreek wat mense wat hakkel, ondervind."
Isaacs sê hy sal voortgaan om innoverende maniere te ondersoek om die gestremdheidsregte van mense wat hakkel, te bevorder. “Ek is vasbeslote om toe te sien dat die diskriminasie en onderdrukking van mense wat hakkel, in my leeftyd uitgeroei sal word."
SLEGS VIR MEDIANAVRAE
Dr Dane Isaacs
Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing
Kaapstad
UITGEREIK DEUR
Martin Viljoen
Bestuurder: Media
Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Universiteit Stellenbosch
Tel: 021 808 4921
E-pos: [email protected]