
Gespreksreeks: hoe gaan diversiteit en ongelykhede landbou se toekoms raak?
Tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se eerste African Food-gesprek vir 2022 gaan die internasionale agronoom prof. Ken Giller die toekoms van boerdery bespreek, veral in terme van hoe kwessies rondom diversiteit en ongelykheid oor verskillende markte en waardekettings heen voedselsekuriteit kan beïnvloed.
Die geleentheid word op 23 Februarie 2022 om 13:00 by die Lanzerac Hotel op Stellenbosch deur die US Fakulteit AgriWetenskappe en die Southern African Food Lab aangebied.
Prof. Giller is 'n kenner van plantproduksiesisteme en is verbonde aan die Wageningen Sentrum vir Agro-ekologie en Sistemiese Analise aan die Universiteit van Wageningen in Nederland. Hy het reeds heelwat navorsing gedoen oor kleinboerstelsels in sub-Sahara Afrika, en ook die kwessie van grondvrugbaarheid en die rol van tropiese peulgewasse in terme van stikstofvaslegging. Sy werk onderstreep die tydelikheid en ruimtelike dinamika en aard van hulpbronne wat beskikbaar is vir gewas- en veeproduksiestelsels, en die invloed daarvan.
Hy lei inisiatiewe soos N2Africa (Putting Nitrogen Fixation to Work for Smallholder Farmers in Africa). Prof. Giller is ook mede-voorsitter van die Verenigde Nasies se SDSN tematiese netwerk oor volhoubare landbou en voedselsisteme, wat volhoubare ontwikkeling en oplossings ondersoek. Hy was voorheen verbonde aan die Universiteit van Londen en die Universiteit van Zimbabwe.
Die African Food-gespreksessies word gereeld aangebied deur die Southern Africa Food Lab, 'n inisiatief van die US Fakulteit AgriWetenskappe. So het dit reeds 'n verskeidenheid van invloedryke rolspelers in die Suider-Afrikaanse voedselnetwerk bymekaar gebring om saam op 'n kreatiewe manier oplossings te soek vir sistemiese kwessies, waarin mense nadink oor en planne beraam om komplekse sosiale uitdagings aan te spreek. 'n Kenmerk van hierdie sessies is die ryke gespreksvoering agterna wat die lesings deur kenners oor Afrika se voedselsisteme ontlok.
Om die gespreksessie aanlyn via die Teams-platform by te woon, RSVP teen 20 Februarie 2022. Kontak Karin Vergeer by [email protected]