
FGGW-alumni inspireer en motiveer jong navorsers
By die tweede aanbieding van die "Roads to Research"-reeks het drie alumni van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) hul onderskeie ondervindings as navorsers en rehabilitasie-gesondheidsorgpersoneel met studente en fakulteitslede gedeel.
Die spesifieke geleentheid van die “Roads to Research: Allied Health Highway" het in Februarie plaasgevind, en is gekoördineer deur die Tygerberg Voorgraadse Navorsingsvereniging, ook bekend as die Society for Undergraduate Research promoting Growth and Excellence (SURGE). Die aanbieders van hierdie geleentheid, wat oor vele vakgebiede gestrek het, was MBChB-studente Sangeun Lee en Motheo Mmotong van SURGE, asook dr Debbie Marais, Hoof van die Voorgraadse Navorsingskantoor by die Navorsingsontwikkeling- en Ondersteuningsafdeling van die FGGW.
Die aanbieding het gefokus op navorsingsgeleenthede vir studente in arbeidsterapie en spraak-taal- en gehoorterapie.
Kollig op eerste stappe van navorsing
Monique de Witt, 'n arbeidsterapeut wat spesialiseer in geestesgesondheid en welstand, het vir studente 'n paar algemene wenke gegee in verband met hoe om hulle navorsingsloopbane te begin. Sy het beklemtoon dat die eerste stappe merendeels van individuele studente se bestaande programme sou afhang, en dat 'n goeie vertrekpunt sou wees om te kyk na die toepassingsvereistes van 'n spesifieke program, en dan met die onderskeie studieleiers te skakel om dit te bespreek.
Sy het voornemende navorsers aangeraai om seker te maak of hul navorsing etiese klaring benodig, al dan nie. "Jy sal heel moontlik 'n etiese protokol nodig hê voordat jy jou data-insamelingsfase kan begin, maar as jy 'n bestekopname of 'n sistematiese oorsig doen, is dit dalk nie nodig nie," het sy bygevoeg.
De Witt is tans in die etiese protokolfase van haar eie PhD. Nadat sy meer as 'n dekade in die Verenigde State gewerk het, is sy nou terug by die Universiteit Stellenbosch (US) en is werksaam as 'n kliniese studieleier en deeltydse dosent.
Die gebruik van navorsing om verandering te bevorder
Valenzia Mackenzie, ook 'n spreker by hierdie geleentheid, het 'n passie om verandering op grondvlak te bevorder, en sy het studente geïnspireer om hul navorsingsbevindinge te gebruik om sodoende vooruitgang in die gesondheidsorgsektor van Suid-Afrika aan te vuur.
"Ek dink vir enigiemand wat die navorsingsruimte betree, handel dit inherent alles oor die verbetering van dienslewering ... want op die ou end ontdek jy wat werk, en wat nie werk nie, en jy gaan pas dit toe in die praktyk," het sy beklemtoon.
Mackenzie het aan die US gegradueer met 'n Meestersgraad in Spraak- en Taal- en Gehoorterapie, en is tans besig met haar PhD. Sy voel 'n sterk roeping in verband met gemeenskapsgebaseerde spraakterapie, en sy koördineer ook terapeutiese dienste vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement in die Overberg-distrik.
Drome van verdere horisonne
Itumeleng Tsatsi, 'n arbeidsterapeut en navorser in psigiatrie en geestesgesondheid, het 'n paar eerlike insigte uit haar eie besonderse navorsingservaring gedeel.
Terwyl sy by 'n landelike psigiatriese hospitaal in Limpopo gewerk het, het Tsatsi navorsing gedoen oor hoe geestesgesondheidspasiënte wat tuisgaan in 'n halfweghuis by die samelewing geïntegreer kan word. Sy het aanvaar dat haar studie sou bevestig wat sy reeds geweet het, maar die resultate het die teendeel bewys. Hierdie bevindinge het vir haar meer diepgaande insigte verskaf met betrekking tot die behoeftes van geestesgesondheidspasiënte, sowel as die waarde daarvan om teorieë met data te staaf.
"In plaas daarvan om bloot aannames te maak oor 'n situasie of oor 'n omgewing, verbreed navorsing regtig jou horisonne en stel jou bloot aan dinge wat jy nooit eers sou oorweeg het as jy net gebly het waar jy was nie," het sy verduidelik.
Tsatsi doseer tans aan die Universiteit van die Vrystaat. Haar baanbrekerswerk in arbeidsterapie het vir haar 'n plek op News24 se 100 Young Mandelas of the Future-lys in 2019 besorg, en ook 'n plek op die Mail & Guardian se 200 Young South Africans-lys in 2018.
Vir die nuutste inligting oor die Roads to Research-reeks, asook oor toekomstige geleenthede, hou gerus SURGE se Instagram- en Facebook-bladsye dop. Vir navorsingsleiding en geleenthede, kyk ook na die Voorgraadse Navorsingskantoor se webwerf.
Onderskrif: Itumeleng Tsatsi, Monique de Witt en Valenzia Mackenzie.