
Farma kliniese assistente blink uit by kongres
Twee kliniese assistente aan die Afdeling Kliniese Farmakologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het bygedra tot die US se uitstekende navorsingsreputaise tydens die 2016 All Africa-kongres in Farmakologie en Aptekerswese.
Dr Ahmed Abulfathi het die eerste prys gewen vir sy voorlegging oor Evaluasie van die doeltreffendheid van geindividualiseerde dosering om terapeutiese Vancomycin-konsentrasies te bereik, terwyl dr Memela Makiwane die tweede prys ontvang het vir sy aanbieding oor Ongewenste teenreaksies op middels in pediatriese binne-pasiënte in 'n tersiêre Suid-Arikaanse hospitaal: 'n voornemende waarnemingstudie.
Die kongres is gesamentlik aangebied deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Basiese- en Kliniese Farmakologie (SASBCP), die Akademie vir Farmaseutiese Wetenskap van Suid-Afrika (APSSA), die Toksikologie-vereniging van Suid-Afrika (TOXSA) en Farmakologie vir Afrika (PHARFA).
"Vancomycin is 'n antimikrobiese middel wat meestal gebruik word om die kiem metisillien-weerstandige Stafilokokkus aureus te behandel. Terapeutiese Vancomycin-konstentrasies hou verband met die genesing van bakterieële infeksies," som Abulfathi die toepaslikheid van sy studie op.
Makiwane se navorsing het die koers ontleed van die voorvalle van ongewenste teenreaksies op middels wat hospitalisering tot gevolg gehad het óf ontwikkel het terwyl kinders in die hospitaal was.
"Die All Africa-kongres is 'n belangrike geleentheid aangesien dit mense uit verskeie vakgebiede lok, onder meer regulatiewe mediese dokters, toksikoloë en navorsers van verskeie velde insluitend pediatrie, infeksiesiektes en reumatologie. Dié byeenkoms dra dus by tot die bevordering van navorsing en opvoeding met die doel om vooruitgang te maak in navorsingsgebaseerde gesondheidsdienslewering," sê Makiwane.
"Deur 'n aanbieding te doen tydens die kongres kry jy die geleentheid om in te skakel by dié ryk netwerk van opinieleiers asook om die potensiaal vir toekomstige samewerking te ondersoek."
Abulfathi stem saam. "Kliniese farmakologie is 'n fassinerede spesialisveld wat met alle aspekte van menslike medisyne te doen het. Kennis in dié veld kan gebruik word vir samewerking met bykans enige ander spesialisveld."
Abulfathi, wat uitsien na 'n loopbaan in die akademie, sê hy is dankbaar dat hy sy universiteit, dosente en mentors kon verteenwoordig by die kongres. "Die prys was te danke aan hulle mentorskap."
Caption: Drr Ahmed Abulfathi en Memela Makiwane het onderskeidelik die eerste en tweede prys gewen vir aanbiedings wat hulle by die All Africa-kongres in Farmakologie en Aptekerswese gelewer het.