
Fakulteit Opvoedkunde kry derde uitgelese professor
Prof Aslam Fataar, Visedekaan: Navorsing in die Fakulteit Opvoedkunde, en 14 ander hoogleraars aan die Universiteit Stellenbosch (US) is onlangs as uitgelese professore aangestel.
Dit is slegs die tweede keer dat die US hierdie eerbewys aan sy voorste akademici betoon. Die eerste groep uitgelese professore is in 2014 aangestel. Prof Yusef Waghid van die Departement Opvoedingsbeleidstudies en prof Lesley le Grange van die Departement Kurrikulumstudies was deel van hierdie groep (berig).
Die Fakulteit Opvoedkunde het dus nou drie uitgelese professore.
Die kriteria om in aanmerking vir hierdie titel te kom, sluit in: Die kandidate moet ten minste vyf jaar by die US as professor aangestel wees; deurlopende uitnemende prestasie oor die laaste drie jaar behaal het; internasionale statuur hê; en na gelang van die spesifieke fakulteitskonteks, bewese uitsonderlike prestasie en leierskap in hoër onderwys in navorsing en publikasies, nagraadse studieleiding, leer en onderrig, en gemeenskapsinteraksie gelewer het.
Die aanstelling geld vir vyf jaar en heraanstellings kan oorweeg word.
Tydens die geleentheid het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, gesê die titel "uitgelese professor" is ingestel om erkenning te gee aan die instelling se beste akademici wat die kruin van sukses in hul universteitsloopbane bereik het.
"Dit is erkenning aan julle, en bevestiging van die Universiteit se verbintenis tot akademiese uitnemendheid soos gereflekteer in die goeie aansien wat ons instelling tans wêreldwyd geniet."
Lees berig: US stel nuwe groep uitgelese professore aan.