
Emosiegerigte Paartjieterapie in Uganda
Emosiegerigte paartjieterapie (EFCT) is een van slegs enkele verhoudingsterapiemodelle met bewese doeltreffendheid in diverse kulturele kontekste. Die meeste van die navorsing hieroor is egter in Noord-Amerikaanse en Europese kontekste uitgevoer. Slegs een klein loodsimplementering van die model is in Afrika gedoen. In hierdie studie verken prof Elmien Lesch en kollegas of en hoe ʼn groep Suid-Afrikaanse paartjies by ʼn psigo-opvoedkundige verhoudingsprogram wat op die EFCT-model gebaseer is, aansluiting vind en hoe hulle dit ervaar. Die studie bevind dat die paartjies by die EFCT-beginsels aansluiting kon vind en rapporteer dat die program gehelp het om hulle verhoudings te verdiep. Meer werk is egter nog nodig om die model se doeltreffendheid en kulturele tersaaklikheid in die verskillende kulturele kontekste in Afrika te ondersoek. Om hierdie gaping te oorbrug, het die EFT-span (emosiegerigte terapie-) van Uganda die opleiding van 80 Ugandese geestesgesondheidsberoepslui in EFCT opgelei. Die opleiding was onder leiding van prof Elmien Lesch en het van 4 tot 7 Julie 2023 in Kampala plaasgevind.
In die terugvoer deur die loop van die opleiding, het baie van die deelnemers aangedui dat hulle dit as lewensveranderend beleef. Die navorsers is nou besig om hierdie beroepslui se ervaring van die opleiding, hulle persepsies van die tersaaklikheid van die model in hulle werkskonteks en die behoefte aan verdere opleiding en steun verder te ondersoek.
Verskeie medewerkers het die EFT Uganda se opleidings- en navorsingsprojek voortgebring, waaronder Ronald Asiimwe (Uganda), ʼn doktorale kandidaat in die Paartjie- en Gesinsterapie-program van Michigan Staatsuniversiteit, VSA; prof Elmien Lesch, medeprofessor en gesertifiseerde EFT-opleier, Department Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch; dr Mark Maxwell, San Diego Staatsuniversiteit, VSA; dr Paul Guillory, gesertifiseerde EFT-opleier en medeprofessor aan die Universiteit van Kalifornië: Berkeley, VSA; die Uganda Beradingsvereniging (die plaaslike beroepsliggaam wat oorsig oor professionele berading in Uganda hou); en dr Rosco Kasujja, Departement Geestesgesondheid en Gemeenskapsielkunde aan die Universiteit van Makere, Uganda.