
Ekoloë omhels tegnologie om biodiversiteit te beskerm
Inligtingstegnologie word toenemend een van die belangrikste instrumente wat ekoloë kan gebruik om die wêreldwye verlies aan biodiversiteit teen te werk. Maar slegs 5% van alle bestaande databasisse oor faktore wat biodiversiteit bedreig – soos indringerspesies, houtkappery en die onwettige handeldryf in wild – kan tans gebruik word om bewaringspogings te regverdig.
"Ons leef in die Inligtingsera, maar vir alle praktiese doeleindes tas ons in die duister rond wanneer dit kom by die beskerming van biodiversiteit," verduidelik dr. Lucas Joppe, 'n wetenskaplike in die rekenaargebaseerde ekologie navorsingsgroep by Microsoft Research. Hy is die eerste outeur van 'n internasionale studie wat vandag (Vrydag 22 April 2016) in die leidinggewende vaktydskrif Science oor dié onderwerp gepubliseer is.
In dié studie het 'n span internasionale navorsers van 18 instansies bykans 300 bestaande databasisse hersien in terme van vyf sleutelvereistes, die sogenaamde 'goue standaard' vir biodiversiteitsdata. Voordat 'n databasis dus effektief vir bewaringspogings gebruik kan word, moet die data 1) vrylik beskikaar wees, 2) op datum en 3) herhaalbaar wees, 4) op 'n gepaste ruimtelike skaal wees en 5) die akkuraatheid van die inligting moet geverifieerd wees. Slegs 5% van bestaande databasisse het aan die goue standaard voldoen.
Dit beteken dat bewaringskundiges tans nie oor betroubare en beskikbare data beskik om die faktore wat biodiversiteit bedreig, te verstaan nie. Sleutel inligting oor byvoorbeeld indringerspesies, houtkappery en die ontwettige handeldryf in wild is byvoorbeeld nie beskikaar nie.
Dr. Wendy Fodan, 'n Suid-Afrikaanse bewaringsbioloog verbonde aan die Departement Plant- en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch en een van die mede-outeurs, sê inligtingstegnologie moet ingespan word om biodiversiteit teen katastrofiese verliese te beskerm.
"Om biodiversiteit op grondvlak te beskerm, vereis 'n goeie begrip van die omvang van die risiko, waar die risiko die grootste is en hoe vinnig dit besig is om te verander. Op internasionale vlak wys ons studie op groot gapings in databasisse oor dié tipe van risikos," sê sy.
Sy voeg egter by dat Suid-Afrika tans oor van die wêreld se mees doeltreffende databasisse oor biodiversiteit beskik. Een van hierdie databasisse is die Rooi Lys van Suid-Afrikaanse Plante wat gedetailleerde en spesies-spesifieke inligting bevat oor die faktore wat Suid-Afrika se buitengewone plante biodiversiteit bedreig.
"Die grootste bedreiging vir Suid-Afrikaanse flora is habitatsverlies, degradering van habitat, indringerspesies en die oes van bedreigde spesies. In 2015 is 2 719 spesies as bedreigd geklassifiseer," verduidelik sy.
Daar is ook databasisse oor Suid-Afrika se voëls, skoenlappers, reptiele, spinnekoppe, paddas en soogdiere.
Dr. Jonathan Hutton, direkteur van die Luc Hoffman Instituut en mede-outer op die studie, sê die analise "lei 'n nuwe benadering in tot die kartering en meting van die faktore wat spesies en ekosisteme bedreig". Die Hoffman Instituut is in 2012 deur WWF Internasionaal en die MAVA Stigting begin om van die planet se moeilikste omgewingsuitdagings aan te spreek.
Dr. Foden is voorsitter van die International Union for Conservation (IUCN) Species Survival Commission's Climate Change Specialist Group (www.iucn-ccsg.org). Sy werk tans saam met prof. Guy Midgley in die globale verandering en biologie navorsingsgroep by die Universiteit Stellenbosch. Voor dit was sy hoof van die IUCN Global Species Programme's Climate Change Unit, wat in Cambridge gebaseer is.
Vir die redakteur:
Joppa, L, O'Connor, B, Visconti, P, et al. (2016) Filling data gaps for threats to biodiversity is op 22 April 2016 in Science gepubliseer.
Meer inligting, sowel as 'n kopie van die artikel, is aanlyn beskikbaar as deel van Science se media verklaring by http://www.eurekalert.org/jrnls/sci. Jy benodig jou gebruikersnaam en wagwoord om toegang tot hierdie inligting te verkry.
Vir meer inligting, kontak:
Lucas Joppa
Nature & Computing Group, Microsoft Research
Tel: +1 425 326 8376
Dr. Wendy Foden
Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch
Skype: wendyfoden
Tel: +27 (0)81 845 8902
Camellia Williams
Kommunikasiebeampte
UNEP World Conservation Monitoring Centre
Tel: +44 (0)1223 814656
Tanya Petersen
Kommunikasie
Luc Hoffmann Instituut
Tel: +41 79 912 2447
Foto van klein groen boompadda in Amani-woud: Brian van Wilgen