
Eerste Uitgelese Leier-lesing ondersoek gesondheid oor die eeue heen
Gaan globale gesondheid oor die universele reg op gesondheid, of gaan dit oor die handhawing van internasionale veiligheid en om die verspreiding van siektes te stuit?
Hierdie baie tersaaklike vraag was die fokus van die eerste lesing in die Uitgelese Leier-lesingreeks, wat in April 2017 by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe ʼn aanvang geneem het. Dr Nils Daulaire, senior genoot aan die Harvard Global Institute en Uitgelese Besoekende Geleerde van die Harvard TH Chan School of Public Health, het die eerste praatjie gelewer.
Gedurende die fassinerende uur lange lesing het Daulaire verduidelik hoe die wêreld oor die eeue heen ʼn voortdurende heen-en-weer van motiverings ervaar het wat betref of bevoorregte, welgestelde lede van die gemeenskap oor arm mense en hul reg op gesondheidsorg moet besorg wees. Hierdie motiverings het globale gesondheid soos ons dit vandag ken, oor tyd heen gevorm.
Daulaire het vyf eras van globale gesondheid geïdentifiseer:
- Kwarantyn en uitsluiting
- Kolonialisme en imperialisme
- Evangelisasie
- Ideologiese mededinging
- Globalisering
Hy het daarna verduidelik hoe bevoorregtes die gesondheid van minderbevoorregtes oor etlike eeue heen beïnvloed het.
Gedurende die Middeleeue is kwarantyn en uitsluiting gebruik om aansteeklike siektes soos die Swart Dood te beheer. Heersers het die hekke van forte gesluit om besmette mense buite te hou. Primitiewe vorme van biologiese oorlogvoering (byvoorbeeld deur besmette lyke oor fortmure te gooi om die vyand uit te hou), is ook beoefen.
In die era van kolonialisme en imperialisme het plaaslike bevolkings slawe geword of is uitgewis om plek vir setlaars en boere te maak. Diegene wat oorleef het, was verarm en het beperkte toegang tot gesondheidsorg gehad. Maar namate plaaslike inwoners ʼn belangrike rol in die vervaardiging van goedere begin speel het, het hul verdrukkers probeer om hulle redelik gesond te hou sodat hulle kon werk.
Gedurende die derde era van globale gesondheid het evangelisasie en die "wen van siele" ʼn effens ander benadering geverg. ʼn Neiging tot sendinggeneeskunde het posgevat weens ʼn missie om tot God se diens te wees. "Dit het nou verband gehou met die idee van fundamentele menseregte," het Daulaire gesê. "Maar dit was ʼn komplekse verhouding."
Ideologiese mededinging het gedurende die era van die Koue Oorlog gevolg, toe ontwikkeling ʼn sentrale organiseringsbeginsel geword en die konsep van globale gesondheid ontstaan het.
Die totstandbrenging van die Verenigde Nasies en die aanvaarding van die Universele Verklaring van Menseregte het ʼn internasionale dialoog oor die konsep van universele menseregte en die reg op gesondheid laat ontstaan. ʼn Fokus op die gesondheid van ma en kind "het ʼn groot rol gespeel in die reusestryd om mense te oortuig," het Daulaire gesê. En in die laat 1970's het intensiewe samewerking tussen die VSA en die Sowjetunie tot die uitwissing van pokkies gelei.
Gedurende die vyfde era, globalisering, het die spoed van kommunikasie en die vinnige uitruil van geld en goedere die internasionale gesondheidsagenda bepaal.
Volgens Daulaire, wat langer as ʼn dekade president en uitvoerende hoof van die Wêreldgesondheidsraad was, het hy "in die middel 1990's die eerste keer die term 'globale gesondheid' gehoor". "Dit het van 'internasionale gesondheid' verskil deurdat dit die onafhanklike aard van gesondheid benadruk het." Dit het voorts ʼn ander ingesteldheid geskep rakende hoe gesondheid oor die wêreld heen benader is, met twee temas wat na vore getree het – die reg op gesondheid en gesondheid as ʼn grondliggende aspek van veiligheid.
"Die reg op gesondheid het tot verstommende suksesse in kinder- en moedergesondheid gelei," het Daulaire gesê. "Dit het voorts ons aandag verskuif na die MIV-pandemie, malaria, TB en siektes onder arm mense wat verwaarloos word." Aan die ander kant het ernstige akute respiratoriese sindroom (Ears), voëlgriep en ebola aan die wêreld se magtiges getoon dat die verwaarlosing van gesondheid in die wêreld se armste lande die wêreld se mees welgestelde mense kan raak.
In ʼn tyd van terrorisme en waarin die ontwikkeling en ontplooiing van instrumente van biologiese terreur redelik maklik geword het, het biologiese oorlogvoering opnuut wêreldwye kommer gewek. "Dit het die belangstelling en noue betrokkenheid van internasionale veiligheidsgemeenskappe ontlok," het Daulaire gesê. "En daar word nou erken dat jy op dieselfde wyse op doelbewuste en natuurlike uitbrake moet reageer. In albei gevalle is dit ʼn kwessie van identifisering, vinnige reaksie en teenmaatreëls."
Maar danksy globalisering beskik ons nou oor ʼn reeks hulpbronne wat ons nie voorheen gehad het nie. Ons is ook op ʼn plek waar ons nie meer mure hoef te bou om bedreigings uit te hou nie. "Dit het belangrik geword om siektes te bespeur en daarop te reageer voordat dit nasionaal en internasionaal versprei. Dít het die reg op gesondheid versterk en geleenthede geskep om saam te werk."
In antwoord op sy aanvanklike vraag (Gaan globale gesondheid oor die universele reg op gesondheid, of gaan dit oor die handhawing van internasionale veiligheid?), het Daulaire "ja" geantwoord. Jy kan die een eenvoudig nie sonder die ander aanpak nie.
Hierdie openbare lesings sal as ʼn forum vir vooraanstaande leiers oor die spektrum van openbare, private en plurale sektore heen dien om hul persoonlike visie te deel en te praat oor hul betrokkenheid by die aanpak van die samelewing se dringendste kwessies.
Onderskrif: Dr Nils Daulaire en Prof Jimmy Volmink, Dekaan: Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.