Skip to main content
Duitse oorbruggingsjaar verbreed studente se kennis én horisonne

Duitse oorbruggingsjaar verbreed studente se kennis én horisonne

Liesel Koch
05 Oktober 2018

Matie Meganiese en Megatroniese (M&M) Ingenieurswese derdejaarstudente het nou 'n uitstekende geleentheid om hul kennis én horison te verbreed met die nuwe Oorbruggingsjaar (Gap Year) wat in 2018 ingestel is. Dit behels studie aan 'n Duitse universiteit vir 'n semester gevolg deur 'n internskap van ses maande by 'n Duitse maatskappy.

"Die idee is dat M&M-studente hul studie aan die einde van hul derde jaar kan onderbreek om by een van ses universiteite in Duitsland aanvullende studies te doen. Gedurende die semester moet hulle uitkyk en aansoek doen vir 'n internskap by 'n Duitse maatskappy," sê prof Kristiaan Schreve, voorsitter van die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch.

Prof Schreve gaan voort: "Hierdie geleentheid is uitsluitlik vir M&M Ingenieurstudente en ons departement ondersteun dit ten volle. Dit is moontlik gemaak deur die goeie verhoudinge wat ons oor die jare met Duitse universiteite gehandhaaf het."

Die afdeling Stellenbosch Universiteit Internasionaal speel ook 'n sentrale rol in die uitruilprogram. Sarah van der Westhuizen, programkoördineerder: Semester Mobiliteit by US Internasionaal, sê: "Vir ons is dit regtig 'n baie belangrike inisiatief op twee vlakke: Eerstens, bevorder dit die internasionalisering van die kurrikulum en tweedens voeg internasionale ervaring waarde toe aan die studente se grade. Die waarde van die ondervinding lê in die verhoogde indiensneembaarheid van die studente, maar ook op 'n persoonlike groeivlak."

Die twee M&M-studente wat die eerstes is om die Duitse Oorbruggingsjaar te doen, Carike Anker en Peter Toulouras, praat met groot lof van dié inisiatief. "Ek het die beste tyd van my lewe in Duitsland! My ervaring by Reutlingen Hochschule is wonderlik," sê me Anker. Mnr Toulouras bevestig haar sentiment: "Tot dusver was my ervaring ongelooflik. Ek het 'n baie sterker passie vir en verbintenis met my bedryf ontwikkel en dit het my duidelikheid gegee ten opsigte van die rigting waarin ek wil hê my loopbaan moet beweeg."

Me Anker vertel meer oor haar internasionale avontuur. "Reutlingen is baie gerig op internasionale studente, aangesien ongeveer 20% van hul studente nie van Duitse afkoms is nie. Van die 18 mense op my vloer in die koshuis is slegs drie Duitse burgers. Die klasse in Reutlingen is baie kleiner as in Stellenbosch. Dis iets waaraan ek eers moes gewoond raak, maar is gelukkig iets positiefs. Reutlingen se dosente moet 'n sekere hoeveelheid tyd in die industrie bestee voordat hulle toegelaat word om dáár te onderrig, en volgens my is dit regtig duidelik in hul onderrigstyl te bespeur. Hul styl is baie meer prakties en industriegerig as wat dit akademies is. Reutlingen is 'n tegniese universiteit, dus moet alle studente 'n praktiese semester doen. Daarom het hulle 'n groot loopbaanskou waar ek al die inligting kon kry wat ek nodig gehad het om vir internskappe aansoek te doen."

Me Anker doen haar internskap by Bielomatik, 'n ingenieurskonsultasiemaatskappy wat oplossings vir plastieksweis- en smeertegnologie bied. "Ek word betaal vir die internskap en dit is só gestruktureer dat ek toepaslike opleiding vir elke projek waaraan ek werk, ontvang. gedurende my internskap sal ek aan verskeie projekte werk."

Mnr Toulouas deel sy ervaring: "My gasheer-universiteit, Technische Hochshule Ingolstadt THI, is ongelooflik en baie inskiklik teenoor uitruilstudente. Dit is 'n goeie plek om meer oor die praktiese sy van ingenieurswese te leer. Alle studente moet 'n internskap voltooi, daarom bied die Universiteit loopbaanskoue met honderde maatskappye wat bywoon. Dit is 'n goeie plek om blootstelling aan verskillende maatskappye te kry en 'n internskap te vind. Ek doen my internskap by Airbus in die afdeling Ruimte en Verdediging. Ek kan die Duitste Oorbruggingsjaar ten sterkste aanbeveel."

Me Anker stem heelhartig saam wanneer sy sê: "Ek beveel die Duitse Oorbruggingsjaar sterk aan. In die laaste semester het ek baie oor myself geleer en die rigting waarin ek wil hê my loopbaan moet gaan. Ek sien daarna uit om nog meer tydens my internskap te leer. Die jaar wat dit by my studies gevoeg het, is reeds die moeite werd. Op 'n nie-akademiese noot het ek ook lewenslange vriende gemaak met mense van oor die hele wêreld. Dit is ook baie maklik en relatief goedkoop om na ander Europese lande te reis as jy in Duitsland gebaseer is, en die kans om sommige van die plekke te besoek wat ek besoek het, is van onskatbare waarde!"

Prof Schreve sluit af: "Behalwe die internasionale blootstelling wat ons studente geniet met hul Duitse Oorbruggingsjaar, is daar nog 'n voordeel. Die ses universiteite waarmee ons saamwerk, word omring deur groot maatskappye soos Porsche, Mercedes Benz, Audi, BMW en Bosch. Baie maatskappye in die gebied het ook filiale in Suid-Afrika. So 'n internskap by 'n Duitse maatskappy kan lei tot moontlike werksgeleenthede in Suid-Afrika vir die studente."

Sien die skakel na die studente se terugvoer HIER.

Carike Anker (vierde van regs, met die wit bloes) met haar medestudente tydens 'n internasionale ete in haar koshuis.