Skip to main content
Dubbele grade vir FGGW mediese student

Dubbele grade vir FGGW mediese student

Sue Segar
02 April 2019

ʼn Mediese student aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn seldsame en merkwaardige prestasie behaal deur nie net een nie, maar twee grade tegelyktydig te behaal. 

Nelius du Plessis het sy MB,ChB-graad van die US ontvang, asook ʼn MSc in Neurobeelding vir Navorsing van die Edinburgh Universiteit, wat hy deur middel van afstandsonderrig voltooi het. 

Boonop het Du Plessis – ʼn “volwasse student" wat getroud is en ʼn tiener seun het – baie van die modules met lof geslaag. Die MB,ChB is ʼn berugte moeilike graadprogram. 

“Ek sien dit nie juis as ʼn prestasie nie," het Du Plessis gesê. “Ek dink ek is baie bevoorreg om die geleentheid te gehad het om ʼn dokter te word, en om my brandende passie na te volg." 

Du Plessis doen tans sy internskap by die Karl Bremer-hospitaal maar bring soveel moontlik van sy vrye tyd deur by die neurochirurgie-departement by Tygerberg-hospitaal. Hy sien ook uit daarna om meer tyd met sy vrou en seun deur te bring “sonder druk om vir die volgende toets te moet leer!" 

“Ek beplan ook my volgende stap om uiteindelik as ʼn neurochirurg te kwalifiseer en ek brei my vaardighede daarvolgens uit," sê hy. 

Du Plessis, het in Germiston groot geword en het in 1996 aan die Hoërskool Elsburg gematrikuleer. Daarna het hy wiskunde en toegepaste wiskunde aan die destydse RAU (nou die Universiteit van Johannesburg) gestudeer. Hy het ʼn MSc-graad in Finansiële Wiskunde van gesamentlik die Edinburgh Universiteit en Heriot-Watt Universiteit in Skotland ontvang voordat hy ʼn nagraadse diploma in Aktuariële Wetenskappe gedoen het. Hy het in verskeie posisies in beleggingsbankwese in die VK en SA gewerk. Sy laaste werk was by JP Morgan in Johannesburg, waar hy aan die hoof was van hulle aandele afgeleide handelsbesigheid. 

Sy besluit om ʼn MB,ChB en MSc in Neurobeelding te studeer is teweeg gebring deur ʼn ontnugtering met sy loopbaan in die bankwese. “Ek het besef dat dit nie werklik by my pas nie. Persoonlike ervarings, insluitend my seun se geboorte, asook verskeie siektes in die familie, het my bewus gemaak van die rol wat ʼn gesondheidsorgwerker kan maak in ander se lewens. Ek het besef dat dit baie bevredigend moet wees." 

Een van die familiesiektes wat hy tee gekom het, was toe sy pa melanoom ontwikkel het wat uiteindelik na sy brein uitgebrei het. “Ofskoon dit natuurlik traumaties was, was ek ook baie beïndruk met hoe die vaardigheid van die neurochirurg wie die tumor verwyder het, hom ʼn finale jaar van goeie lewensgehalte gegee het. Op daardie punt het ek geweet dat as ek geneeskunde gaan betree, ek ʼn neurochirurg wil wees. Die MSc was ʼn goeie geleentheid om meer insig te kry in kliniese neurochirurgie." 

Du Plessis het besluit op Edinburgh Universiteit, wat een van die oudste mediese skole ter wêreld het, en ook bekend is vir hul navorsing in neurobeelding. 

Hoe het sy werk- en studie-program gelyk? “Ofskoon ek lief is daarvoor om nuwe kennis te bekom en toe te pas, haat ek dit om te moet sit en leer. Maar ek is baie doelgerig en hardkoppig en kon daar deur werk, en deur God se genade, was daar altyd net genoeg tyd en energie om alles in te pas." 

Tussen sy studies het Du Plessis daarvan gehou om films te kyk, saam met sy familie te ontspan, met sy honde te stap en het hy afstands-'ergo'-roei gedoen – “ʼn aktiwiteit wat slegs deur studeerwerk oorskry word vir die eindelose pyn wat dit veroorsaak." Hy het ook tyd afgeneem om te kook en na musiek te luister. 

Du Plessis het gesê hy sal heel waarskynlik in die langtermyn in Suid-Afrika werk. “Ek sal baie graag ʼn genootskap oorsee wil doen, maar na aanleiding van die positiewe ervarings met opleiding en kollegas hier, sal ek gelukkig wees om hier aan te bly. My vrou is Skots, so dit is altyd iets om in gedagte te hou. Ek is baie lief vir die mense van Skotland – hulle is werklikwaar sosiaal-georiënteerd, en die mense beskou die nasionale gesondheidstelsel as ʼn skat wat almal bevoordeel – ons kan baie leer van so ʼn denkwyse."

Onderskrif: Nelius du Plessis saam met sy kliniese-vennoot, Kirsten Kingma.

Foto: Wilma Stassen​