Skip to main content
Du Toit neem leisels oor by Afdeling Rumatologie

Du Toit neem leisels oor by Afdeling Rumatologie

Birgit Ottermann
17 April 2019

Internis en rumatoloog dr Riëtte du Toit is onlangs aangestel as senior lektor en nuwe hoof van die Afdeling Rumatologie aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Du Toit, wat al sedert 2007 by die afdeling werksaam is as rumatologie-konsultant, is opgewonde oor haar nuwe leierskaprol en voornemens vir die afdeling: “Aan die een kant sal ek my kliniese verantwoordelikhede voorsit, maar die groot verskil sal wees dat ek nou ook die administratiewe aspekte van die eenheid sal lei. Die Afdeling Rumatologie was nog altyd sterk wanneer dit kom by die gehaltesorg van ons pasiënte. Oor ʼn paar jaar sal ek graag wil terugkyk op ons navorsingsuitsette en die gehalte van ons onderwys aan voor- en nagraadse studente, en kan sê dat ons prestasies die pasiënte en gemeenskap waarin ons werk bevoordeel het – so wyd as moontlik."

Volgens du Toit is haar belangstelling in rumatologie geprikkel tydens haar werk as kliniese assistent. (Rumatologie is die studie van rumatiese, outo-immuun en inflammatoriese siektes wat gewrigte en bindweefsels beskadig, bv. rumatoïede artritis, osteoartritis, lupus, jig en fibromialgie.) “Ek wou nog altyd ʼn internis wees, omdat ek die diagnostiese en terapeutiese uitdagings van hierdie spesialisveld so geniet. Toe ek as kliniese assistent begin werk in rumatologie, was ek gefassineerd deur die siekteprosesse en, aangesien dit te doen het met multi-sistemiese siektes, het rumatologie my net nog verder uitgedaag as internis. Ek het ook bewus geword van die groot behoefde aan dokters in rumatologie, asook die groot nood in baie Suid-Afrikaanse gemeenskappe."

Gevra watter aspek van haar werk haar die meeste inspireer, sê du Toit: “Die pasiënte wat ons behandel bly my inspirasie – om ʼn verskil te maak in iemand se lewe, selfs al is dit nie moontlik om hulle te genees nie. Partykeer heel ʼn gewillige oor meer! Rumatologie het oor die laaste dekade heelwat ontwikkel en beskik nou oor nuwe, geteikende terapie en 'n veel beter begrip van die siektes wat ons behandel. Dit maak dit 'n baie opwindende en immer veranderende veld om in te werk. Ek voel ook geïnspireerd deur die studente wat honger is om te leer en te verstaan, ongeag die uitdagings wat hulle dalk mag hê. Ons werk, veral by Tygerberghospitaal, openbaar soveel verskillende aspekte van die land wat ek lief het. Dit hou my nederig en dankbaar."

Du Toit doen tans haar PhD-navorsing oor die diagnostiese eienskappe van miokardiale disfunksie in lupus-pasiënte. “Ek ondersoek hoe hartsiekte vinniger en meer akkuraat gediagnoseer kan word by lupuspasiënte. Hierdie navorsingsvraagstuk spruit uit my werk met pasiënte en die tekort aan akkurate inligting oor dié siektetoestand in internasionale literatuur. Ek hoop om die uitkoms van dié komplikasie in ons pasiënte te verbeter deur met ʼn meer akkurate diagnose en praktiese aanslag vorendag te kom wat ook in hulpbron-beperkte omgewings toepaslik sal wees."

Wanneer sy nie werk nie, spandeer du Toit haar vrye tyd met haar familie. “Ek is die ma van twee tienerseuns en die vrou van ʼn wonderlike man. Hulle is deel van my lewensreis. Ek probeer om soveel moontlik tyd langs die krieket- en rugbyveld deur te bring, om te luister hoe daar kitaar en trompet geoefen word, en om uit te werk hoe mens skermtyd beter kan bestuur! Ons is lief vir reis, ons mooi land aan ons seuns te wys en saam tyd in die buitelug te geniet."