
Drie gesogte ‘Wetenskap-Oscars’ vir US
Die Universiteit Stellenbosch (US) het drie gesogte pryse losgeslaan by die 2022/2023 Nasionale Wetenskap- en Tegnologieforum (NWTF)/South32-toekennings wat Donderdag (13 Julie 2023) plaasgevind het. Hierdie jaarlikse toekennings, wat ook as Suid-Afrika se 'Wetenskap-Oscars' bekend staan, gee erkenning aan, vier en beloon individue, spanne en organisasies se uitnemendheid in wetenskap, ingenieurswese en tegnologie (WET) in die land.
Die gevierde opvoedkundige kenner en denkleier, prof Jonathan Jansen, is vir sy lewenslange bydrae vereer, die voortreflike tuberkulose (TB)-wetenskaplike, prof Novel Chegou, het 'n TW Kambule-NWTF-toekenning in die kategorie vir navorsers ontvang, en Gerrit Laning het met die NRO-toenning weggestap.
Jansen, 'n uitgelese professor in die Opvoedkunde by die US, is vereer vir sy voortreflike bydrae tot die bevordering van opvoedkundige vakkundigheid deur gevorderde navorsing en publikasies, vakkundige onderrig, wetenskaplike leierskap en voorspraak, skoolverbetering, opvoedkundige innovasie, kapasiteitsbou, openbare deelname en innoverende universiteitsbestuur.
Jansen sê hierdie toekenning “is terselfdertyd opwindend én bemoedigend. Dit is ʼn wonderlike bevestiging van 'n mens se navorsing en die toepassings daarvan oor tyd in daardie nimmereindigende strewe om onderwys in ons land en op ons vasteland te verbeter."
Hy het sy lewe aan die bevordering van opvoedkunde en ontwikkeling in Suid-Afrika en die Suider-Afrikaanse streek gewy en is 'n leier op die gebied van hervorming in die hoër onderwys ná apartheid.
Jansen is 'n aktiewe skrywer en verskeie boeke en artikels het al uit sy pen verskyn. Hy het ook al verskeie nasionale en internasionale toekennings vir sy navorsingsuitsette en openbare werk ontvang.
Hy staan aan die hoof van die program vir toekomstige professors (“Future Professors Programme), 'n projek van R65 miljoen wat deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding gefinansier word om hoofsaaklik jong swart en vroulike vakkundiges op professorskap voor te berei. Jansen is ook die president van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf) en is 'n lid van die prestigeryke Amerikaanse Akademie van Lettere en Wetenksappe.
Prof Novel Chegou van die Afdeling vir Molekulêre Biologie en Mensgenetika in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het die TW Kambule-NWTF-toekenning ontvang vir sy werk om biomerkers te identifiseer wat met die diagnose van TB en die monitering van die reaksie op behandeling kan help.
Chegou doen navorsing oor nuwe toetse wat met die vinnige diagnose van TB, veral in landelike gebiede, kan help. Hy het toetse ontwikkel wat gelyktydig veelvoudige proteïne in vingerprikbloed en rugmurgvog meet. Die vingerprik-bloettoets word tans in lande in Afrika en Asië in die veld getoets. Chegou se werk het reeds tot nege patentaansoeke gelei. Sy innoverende navorsing is ook al nasionaal en internasionaal erken, en sy mees onlangse toekenning is die Verenigde Koninkryk se Koninklike Vereniging se Afrika-prys.
Chegou sê die toekenning lê nie net hom nie, maar sy hele span na aan die hart.
“Ons soort werk kan nie sonder 'n klomp mense gedoen word nie – ek het 'n groep gehad wat aan die ontwikkeling van nuwe instrumente vir die diagnosering van TB gewerk het. Ons het 'n span mediese dokters, pediatriese neuroloë, ingenieurs en ander mense wat saam met my werk om nuwe instrumente vir die diagnose van TB te ontwikkel."
Gerrit Laning, die Hoof-uitvoerende Beampte van Community Keepers, het die NRO-toekenning ontvang vir sy organisasie se werk om veerkragtigheid aan te vul en geestesgesondheid en -welstand onder Suid-Afrikaanse leerders, hulle ouers en die gemeenskap te bevorder.
Community Keepers is deur die US genomineer danksy die organisasie se noue verbintenis met die US se Departement Sielkunde. Laning, wat ook 'n US-alumnus is, sê hy dra die toekenning op aan sy kollegas en Community Keepers se ongelooflike akademiese vennote. “Ons het werklik 'n wonderlike verhouding met die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad, en ons is baie opgewonde oor bykomende vennootskappe."
- Foto: Van links; Prof Novel Chegou, Prof Jonathan Jansen en Gerrit Laning spog met hul NWTF-toekennings. Foto: Verskaf.