Skip to main content
Doktorsgraad oor lietsjies vir dr. Cronje

Doktorsgraad oor lietsjies vir dr. Cronje

Engela Duvenage
11 April 2023

​Regina Cronje vier vanjaar haar loopbaan van twee dekades as lietsjie-navorser met 'n paar besonderse mylpale. Sy het pas haar doktorsgraad in Hortologie aan die Universiteit Stellenbosch ontvang vir navorsing wat waardevol vir die sukses van plaaslike lietsjie-oeste is te midde van veranderende klimaatstoestande. Daarby is sy ook die eerste Matie-student om 'n doktorsgraad oor dié sappige vruggie met sy kenmerkende rooi-pienk skil te ontvang.

Dr. Cronje is ook die eerste student in Suid-Afrika  wat al 'n PhD-graad voltooi het oor die verbouing van die gewas, eerder as die vrug self.

Sy werk reeds op lietsjies sedert haar MSc-jare in die vroeë 2000's aan die Universiteit van Hohenheim in Duitsland. Sy het in 2002 gegradueer nadat sy die effek van plantgroeireguleerders en ringuleering op die retensie en vruggrootte van Suid-Afrikaanse lietsjies bestudeer het.

Sedert sy in 2004 by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Tropiese en Subtropiese Gewasse Hortologie-afdeling in Nelspruit begin werk het, doen sy navorsing oor vrugte soos lietsjies, mangoes en sitrus. Haar navorsing is reeds vervat in meer as 50 vaktydskrifartikels en 15 boekhoofstukke, en sy skryf gereeld populêre artikels vir die plaaslike landboubedryf. Plaaslik is dr. Cronje baie betrokke in die Suid-Afrikaanse lietsjiebedryf, en praat gereeld by studiegroepe en simposia. Sy het reeds in lande soos China, Australië, Indië, Italië en Vietnam oor haar werk gesels.

In 2009 het sy ook die Lindsey Milne Lietsjiebedryfstoekenning van die Suid-Afrikaanse Lietsjiekwekersvereniging (SALGA) ontvang.

Haar werk op lietsjies word al jare lank deur SALGA befonds.

"Sonder die bedryf se befondsing en die boere op wie se plase ek mag werk sou hierdie navorsing nie moontlik wees nie," sê sy dankbaar. "Alhoewel die Suid-Afrikaanse lietsjiebedryf baie klein is , met 'n klein navorsingsbegroting, het hulle nogtans besluit om 'n groot deel van my molekulêre werk vir my PhD te befonds. Ek is baie dankbaar vir SALGA se jarelange ondersteuning."

Saam met bedryfslede het sy ook goeie verhoudings met navorsers van die Suid-China Landbou-universiteit in Guangzhou in China opgebou wat reeds tot talle wedersydse besoeke gelei het. Prof. XM Huang van dié universiteit was daarom een van haar mede-studieleiers. Haar hoofstudieleier was prof. Lynn Hoffmann, voorheen van die Universiteit Stellenbosch se Departement Hortologie, met prof. Karen Theron, ook van die US, as 'n tweede medestudieleier.

Lietsjies in Suid-Afrika

Lietsjies word reeds sedert 1875 in Suid-Afrika gegroei, nadat die eerste plante vanuit Mauritius gebring is. Dié subtropiese vrugtebome het hul oorsprong in China.

Driekwart van alle Suid-Afrikaanse aanplantings is van die 'Mauritius' kultivar. Oeste beloop maar sowat 6000 ton, maar dié is hoogs winsgewend en kan tot R185 miljoen jaarliks inbring.

Tans word slegs sowat 1500 hektaar in Suid-Afrika verbou, veral in die rypvrye dele van Mpumalanga en Limpopo, en tot 'n mindere mate in KwaZulu-Natal. Hierdie streke is gewoonlik gekenmerk aan warm, nat somers en koue droë winters.

"Vir goeie blomontwikkeling moet 'Mauritius'-bome verkieslik vir etlike dae lank gemiddelde temperature onder 20  grade Celsius ondervind. Sodra die blompluime verskyn is 'n geleidelike styging in temperature nodig om goeie blomvorming te verseker," vertel Cronje.

In die maand voor blomvorming moet die bome ideaalgesproke reeds volwasse terminale lote dra. Enige vegetatiewe lote wat ontpop voor die blominduksiefase sal ongelukkig nie betyds blomme kan lewer nie.

Dit het alles 'n effek op blomvorming, iets wat allerweë in elk geval 'n groot kwessie vir lietsjieboere is - en nie net in Suid-Afrika nie. Hoe swakker bome in die lente blom, hoe swakker vorm die vrugte en hoe kleiner is die uiteindelike oes.

Oor die afgelope twee dekades is 'n skuif in seisoenale kimaatstoestande egter in Suid-Afrika se lietjieproduksiegebiede ondervind, met droër somers en reënval aan die einde van die somer en vroeë herf. Meer gematigde winters word toenemend ervaar, en die koudste periodes kom al later in die wintermaande voor.

Daarom kom die broodnodige "koue" tyd waarna lietsjieboere soek al hoe later in die jaar voor, en oorvleuel dit nie meer met die regte groeiperiode van die bome nie. Lootgroei voor blomtyd versnel, en gevolglik raak blomset al swakker.

Beter gebruik van plantgroeireguleerders

Die bedryf wend reeds lank die plantgroeireguleerder etafon aan om lootgroei in die herfs te verwyder omdat dié lote blomontwikkeling belemmer.  Dit word gewoonlik as kolbespuiting rondom Aprilmaand aangewend. Weens die veranderende klimaat is egter gevind dat dié tipe etefontoediening nie meer so doeltreffend is nie.

"Dit alles vererger die reeds bestaande probleem van wisselvallige blom verder," vertel dr. Cronje.

Deur haar doktorale studies het sy egter gevind dat etefon meer effektief is as dit as heelboom bespuiting toedien word wanneer die lote volwasse is en nuwe lote nog nie uitgeloop het nie. Dit werk beter as wanneer dit met kolbespuiting op jong onvolwasse lote toegedien word. So word vegetatiewe lootgroei voor blominduksie heeltemal voorkom.

Die tipe toediening vertraag daarby die ontwikkeling van blompluime genoegsaam tot koeler weer aanbreek.  Dit bevorder die opbou van koolhidrate en verbeter die kwaliteit van bloeiwyses. So word die blompersentasie verbeter, asook die uiteindelike opbrengs - sonder dat vrugte noemenswaardig later ryp raak

Die datum van toediening en konsentrasie waarteen dit toegedien word speel 'n belangrike rol in hoe doeltreffend etefon gebruik kan word.

Hoë etafonkonsentrasies werk beter onder warmer toestande, soos die vroeë herfs, of in gebiede wat oor die algemeen warmer is. Produsente kan wegkom met laer konsentrasies later in die herfs en vroeë winter.

"My studies het gewys dat klein aanpassings in wanneer en op watter groeifase dit toegedien word, 'n groot verskil kan maak in hoe effektief etefon gebruik kan word," som sy van haar bevindinge op.

"Deur lootgroei te voorkom en die tyd van knopbreek te beïnvloed, werk die gebruik van etefon op volwasse eindlote beter as konvensionele kolbespuitings.

"Dit kan 'n kragtige hulpmiddel wees om die tyd van blomontwikkeling onder minder gunstige toestande te bestuur.

As deel van haar studies het dr. Cronje ook in detail bestudeer wat op 'n fisiologiese en 'n molekulêre vlak in die lote, ogies en jong blompluime gebeur wanneer etefon gebruik word om blomvorming in die "Mauritius" kultivar te verbeter. Haar geenuitdrukkingstudies het getoon dat etefon dormansie in die ogies veroorsaak. Die gevolg is dat die ogies later, wanneer die temperature genoegsaam daal,  begin ontwikkel en blomvorming dus verbeter.

Aanbeveeling uit haar studies word reeds in die plaaslike bedryf toegepas.

Sy hoop haar bevindinge kan die plaaslike bedryf help om meer volhoubaar te wees, en verdere uitbreidings te kan maak.

Sy hoop dat nog geleenthede sal opduik om verdere navorsing oor blomvorming te kan doen. Sy reken dat verdere molekulêre studies oor geenuitdrukking in lietsjies nog groot bydrae kan maak tot die uitbou van kennis oor die ingewikkelde blomvorming van lietsjies. Tans werk sy aan die verbetering van die kleur van lietsjieskille. ​