Skip to main content
Direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool reageer op kabinetskommeling

Direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool reageer op kabinetskommeling

USB
31 Maart 2017

​In reaksie op President Jacob Zuma se kabinetskommeling, het prof Piet Naudé, Direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool, die volgende verklaring uitgereik:

Ons by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) het kennis geneem van President Zuma se kabinetskommeling. Ons erken  die President se grondwetlike prerogatief om besluite te neem oor die lede van die kabinet volkome.

Die konteks van hierdie optrede dui egter daarop dat die besluit nie in Suid-Afrika se beste belang is nie, en dat dit 'n negatiewe uitwerking op die fiskale stabiliteit, ekonomiese welvaart en die oorhoofse ontwikkeling van ons land sal hê.

Dít sal die regering se vermoë om sy sosiale mandaat uit te voer beperk, en sal vertroue in die legitimiteit van sleutel demokratiese instellings laat afneem. 

Die USB sal aanhou om die nuwe generasie van besigheidsleiers op te voed vir die publieke-, private en burgerlike samelewing sektore in Suid-Afrika en op die Afrika-kontinent.

Ons bly heeltemal toegewyd om ons akademiese kapasiteite en uitvoerende opleiding te gebruik in diens daarvan om ongelykheid te verminder, armoede aan te spreek, en om 'n entrepreneuriese denkwyse te skep tot werkskepping. Ons erken die kernbelangrikheid van 'n land met 'n meer inklusiewe ekonomie.

Ons doen 'n beroep op alle Suid-Afrikaners om moed the hou terwyl ons ons kollektiewe welwillendheid en energie inspan om ons land se enorme potensiaal te verwesenlik.