
Diepgaande gesprekke tydens #SU Leads 2016 konferensie
Die jaar se #SU Leads konferensie, wat vanaf Sondag 4 September tot Maandag 5 September plaasgevind het, het verskeie temas ondersoek tydens 'n reeks praatjies gemik daarop om "kennis, ruimtes en institusionele kultuur" te dekoloniseer.
Die rektor spreek studenteleiers toe by die opening van die jaar se konferensie. Fotograaf: Henk Oets.
Die #SU Leads studenteleierskap konferensies word elke jaar gehou om "student te inspireer om betrokke rolspelers te wees binne hul studente gemeenskappe," volgens die Frederik van Zyl Slabbert (FVZS) Instituut, wat die konferensies aanbied.
Die praatjies het diepgaande gesprekke tot gevolg gehad, het Dr Leslie van Rooi, direkteur van die FVZS Instituut gesê, toe hy reflekteer op die jaar se konferensie.
"Ons is tans in gesprek met studenteleiers en kollegas oor van die belewenisse van studente en dit is duidelik dat studente soms in presies dieselfde sessies die aard van die sessies óf uiters positief óf uiters negatief kon beleef het. En dit is natuurlik nie vreemd nie – juis weens die aard van die gesprekke," sê dr Van Rooi.
"Maar wat veral van waarde is, is dit feit dat die gesprekke nie stop nie en dat ons dit nou op verskillende vlakke ondervang en verder neem – ook saam met kollegas en studenteleiers," voeg hy by. "En dit is natuurlik ook in pas met die aard en uitkomste van die leierskonferensie, naamlik om studenteleiers bloot te stel, te ondersteun en om hul toe te rus met kritiese en noodsaaklike vaardighede. Maar die gesprekke kan nie begin of eindig by die konferensie nie en daarom draf ons tans om die gesprekke verder te neem."
"Dit is duidelik dat die konferensie oor die algemeen as positief beleef was, maar dat daar sessies was wat vir sommige groter gemak en vir ander groter ongemak veroorsaak het. Ons het dit verwag en neem nou verskeie gesprekke op. Hierdie gesprekke sal aanhou tot aan die einde van die vierde kwartaal. Die algemene terugvoer is dat die oorgrote meerderheid van die deelnemers nou meer bewus is van die temas soos deur die konferensie gedek, dat hul sekere begrippe, gevoelens, kontekste, realiteite en ervaringe beter verstaan en dat die leiers meer toegerus voel om verder te leer en om terug te ploeg."