Skip to main content
Dieetkundestudent eerste prinses by Mej Dowe SA-kompetisie

Dieetkundestudent eerste prinses by Mej Dowe SA-kompetisie

Wilma Stassen
23 November 2016

Janie Visser is nie jou gewone 20-jarige nie.

Sonder enige ervaring in modelwerk het dié tweedejaar-dieetkundestudent aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch vir die Mej Dowe Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf en sommer twee titels, dié van Eerste Prinses én Mej Persoonlikheid, losgeslaan.

"Dis 'n groot eer om hierdie titels te ontvang, veral die Mej Persoonlikheid-titel, aangesien ek elke dag my Christenskap probeer uitleef, en al my goeie persoonlikheidseienskappe eintlik 'n toonbeeld van Jesus s'n is," sê Visser.

Alhoewel dit baie vir haar beteken, is hierdie prestasie net 'n veer in haar hoed en sy sê dat sy nog altyd oorgehaal was tot sukses. "Voor die kroning het ek vir myself gesê: 'Janie, jy het klaar gewen, jy het nie 'n kroon op jou kop nodig om jou drome te bereik nie.'"

Dié skoonheid, wat bilaterale sensories-neurale gehoorverlies het en net omtrent 20% gehoor het, wil graag haar nuwe status gebruik om bewustheid van, en opvoeding en toeganklikheid vir, die dowe gemeenskap te bevorder. "Ek wil die wanbegrip wat mense oor dowes het uit die weg ruim en vir hulle wys dat ons nes hulle is – dis net die ore wat nie lekker saamwerk nie," sê sy.

Volens dié Wellington-boorling was die hoogtepunte van die skoonheidswedstryd wat in Oktober in Pretoria aangebied is, die verblyf in die spog-hotel Forever Resorts – wat ook die kompetisie geborg het – en die tyd wat sy saam met ander gehoorgestremde mense deurgebring het.

"Die moeilike deel was om jouself elke dag mooi te maak. Ek is eintlik 'n 'plain Jane', maar as jy 'n groep wil verteenwoordig, moet jy hulle trots maak en dus altyd op jou beste lyk," gee Visser toe.

Sy beplan om haar BSc-graad in Dieetkunde in 2018 te voltooi en daarna tot op  meestersgraadvlak te studeer, voordat sy vir 'n ruk oorsee gaan werk. "Ek wil graag insig kry in hoe dinge in ontwikkelde lande gedoen word, en dan terugkom om die kennis hier toe te pas en Suid-Afrika te help uitbou."

Vir eers fokus sy op haar studies en beplan sy fondsinsamelingswerk vir die Mej Dowe Suid-Afrika-kompetisie. "En ek hoop my trouman daag binnekort op," sê sy grappenderwys. Volg haar aktiwiteite by: https://www.facebook.com/Forever-Resorts-Miss-Deaf-South-Africa-First-Princess-2016-Janie-Visser-621343591372325/

Foto: Janie Visser, die Eerste Prinses by die Mej Dowe SA-kompetisie 2016, saam met die wenner, Tashreeqah Khan, en die Tweede Prinses, Bianca Bond.